‘Ons gaan nie in pessimisme verval’
Deur Liezl Vercueil 22 Desember 2015 Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, deel sy wense vir die Feesseisoen en die toekoms.‘Dit is my gewaarwording dat die onmisbare rol van die Suid-Afrikaanse boer toenemend besef word in alle kringe’
As die jonger geslag nie saamstem met standpunte, uitlatings of gesegdes van ouer mense nie, word dit maklik afgemaak as sou die ouer persoon besig wees om te “download”. As ek terugdink aan die jaar wat verby is en my probeer indink wat 2016 kan oplewer, loop ek ook die gevaar om die tipe (elektroniese) kritiek te ontlok.
Hoe ook al, die uitdrukking “ ’n boer maak ’n plan” het al ’n cliché geraak, maar die uiterste droogtetoestande wat by die skrywe hiervan steeds ernstig was, gaan tot die mate wat dit voortduur, nuwe betekenis aan die uitdrukking gee.
Hoewel reën die enigste werklike oplossing bied, sal Agri SA voortgaan om saam met sy affiliasies en ander belanghebbendes die uitwerking van die droogte te prober versag en spesifiek probeer om die finansiële oorlewing van boere te verseker.
Bo-oor al hierdie pogings staan geskryf: “Daar is groot risiko’s vir die land en sy mense as voedselsekerheid nie gehandhaaf kan word nie”. Dit klink dalk soos ’n cliché, maar probleme met voedselsekerheid kan aanleiding gee tot ons eie “Arabiese Lente”.
Politiek warmer
In die aanloop tot die munisipale verkiesing sal populistiese uitlatings en politieke beloftes algemeen voorkom. Sonder twyfel sal grond, arbeid, water en ander kwessies wat die landbousektor raak, weer op die voorgrond wees.Agri SA sal op grond van interne mandate wat hy van sy strukture verkry het, voortgaan om met kalmte hierdie sake te beredeneer. Ons gaan vir seker nie in pessimisme verval nie en ons vertrou dat ons lede, ten spyte van dikwels moeilike omstandighede, dieselfde gesindheid sal kan openbaar.
Dit is my gewaarwording dat die onmisbare rol van die Suid-Afrikaanse boer toenemend besef word. Dit geld spesifiek ten opsigte van die veiligheidsituasie in landelike gebiede en ek doen ’n beroep op boere om ook op hul plase veiligheid voorop te stel.
Uiteindelik bly dit ’n onomstootlike waarheid dat “die mens wik, maar God beskik”. Dit kan in sommige kringe ook as ’n outydse stelling afgemaak word maar vir veral boere kan dit nooit uitgedien wees nie. Graag wens ek u ’n baie voorspoedige 2016 toe.
Landbouweekblad