fbpx

Kwanalu

Gevolge van droogte raak al erger

Deur Rozanne Els 22 Desember 2015 16:48

Die domino-effek en langtermyn-impak van die landwye verlammende droogte is nie net tot boere beperk nie – die verbruiker gaan dit ook voel.

Dalk nie vandag nie, maar beslis binnekort.

Én, sê die landbou-ekonoom prof. Johan Willemse van die Universiteit van die Vrystaat, volgende jaar gaan erger wees.

Maar, waarsku Dan Kriek, president van Vrystaat Landbou, ’n mens moet verantwoordelik wees wanneer syfers en getalle bepaal word. Daar ís nog tyd om te saai – tot om en by 15 Januarie – en goeie, asook opvolg-reënval kan steeds ’n verskil maak.

“Die situasie is sleg, maar ’n mens kan nog nie sê hoe sleg nie,” sê hy.

Kriek sê ook dat mense die effek van die droogte in die groter prentjie moet inreken.

“Die domino-effek is heeltemal onderskat. Dit is 22 Desember en die Vrystaat het nog geen noemenswaardige reën gehad nie,” sê hy.

’n Paar buie hier en daar is nie genoeg nie, maan hy.

Die warm weer maak ’n bietjie reën se effek gou onklaar – daarom is opvolgreën ongelooflik belangrik.

En ja, die boere – van vee- tot grondboere – is in groot moeilikheid.

Veeboere moet onder meer hul vee verminder weens ’n tekort aan weiveld. Maar dié vleis is, weereens weens die droogte, waarskynlik nie A-graad-vleis nie. Koeie se besetting is ook baie laag, wat beteken daar gaan veel minder kalwers wees, sê Willemse. Uiteindelik skiet vleispryse die hoogte in – na verwagting tussen 30% en 40%.

Boonop het meeste boere nie soveel saad aangeplant soos hulle moes nie en waar hulle dit kon regkry, lyk die vooruitsigte om dit uit die grond te kry nie goed nie. Sommige boere het uit desperaatheid in droë grond geplant, sê Kriek.

Verwag dus dat twee-derdes van jou broodjie waarskynlik van Russiese koring gemaak gaan word, sê Willemse – die verwagting is dat twee-derdes van die land se koring sal moet ingevoer word.

“Die Vrystaat moet reën én opvolgreën kry. Anders staar landbou regtig een van die skrikwekkendste jare in die gesig,” maan Kriek.

Maar selfs al reën dit – die langtermyneffekte begin nou reeds vorm en boere sal dit moontlik vir die volgende paar jaar nog voel. Die meeste het bloot net nie meer geld om volgende jaar te plant of vee te onderhou nie.

Willemse vergelyk dit met ’n gemiddelde verbruiker wat ’n jaar sonder inkomste sit. “Sal jy oor die weg kan kom?”

Kriek en Willemse is dit eens dat ’n groot deel van die probleem is dat die staat geen reserwes vir “a dusty day” voorsien het nie.

Landbou-syfers

– Afname van12,6% in groei in die landbousektor.
– Die prys van witmielies bereik ’n rekordprys van nagenoeg R4000/ton.

– Graaninvoer sal na verwagting van 4,1 miljoen ton tot 5,67 ton verhoog.

– Graanboere se verliese word teen sowat R10 tot R12 miljard vir 2015 bereken.

– Die prys van geelmielies het reeds met 75% toegeneem.

– Die witmielieprys het reeds amper verdubbel sedert verlede Desember.

Bron: Verslag deur prof. Johan Willemse, dr. Dirk Strydom en Manfred Venter, Implications of the lingering 2015 drought on the economy, agricultural markets, food processors, input suppliers and the consumer, 11 Desember 2015

Landbou-syfers

– Afname van12,6% in groei in die landbousektor.

– Die prys van witmielies bereik ’n rekordprys van nagenoeg R4000/ton.

– Graaninvoer sal na verwagting van 4,1 miljoen ton tot 5,67 ton verhoog.

– Graanboere se verliese word teen sowat R10 tot R12 miljard vir 2015 bereken.

– Die prys van geelmielies het reeds met 75% toegeneem.

– Die witmielieprys het reeds amper verdubbel sedert verlede Desember.

Bron: Verslag deur prof. Johan Willemse, dr. Dirk Strydom en Manfred Venter,Implications of the lingering 2015 drought on the economy, agricultural markets, food processors, input suppliers and the consumer, 11 Desember 2015

 

Nuus 24