fbpx

Kwanalu

KZN se varkboere dink vooruit

Deur Johan van der Merwe
21 September 2015
Van KwaZulu-Natal se voorste varkboere het onlangs vergader om die vordering en toekoms van hul bemarkingsveldtog te bespreek. 

Die afgelope jaar se deelname aan die Royal Skou se karkaskompetisie, die tweede jaar dat varkboere aan hierdie skou deelneem, was ’n groot sukses, volgens mnr. Barry Gibbs, uitvoerende hoof van Pro Pig Development en voorsitter van KZN se Varkprodusente-organisasie.

“Varkvleis word nie tradisioneel deur die swart bevolkings geëet nie, so om deel te wees van die skou en die opgewondenheid van die karkaskompetisie, gee vir ons as produsente waardevolle blootstelling,” meen Gibbs.

Volgens mnr. Craig McCord, ’n varkboer van Ashburton en die hoofbestuurder van Unipig, ’n varkvleis-bemarkingsmaatskappy, is die uitdaging vir boere wat graag aan die kompetisie wil deelneem, die vervoer van varke na die slagplaas in Winterton, waar die beoordeling volgens SAMIC-regulasies gedoen word. “Ons beoog om ten minste 15 boere se karkasse in te skryf vir 2016 en wil graag die klein, opkomende boere ook betrek. Die uitdaging vir hulle is egter nog groter,” meen McCord.

Die SA Varkprodusente-organisasie (SAVPO) poog om die veelsydigheid en gesondheid van varkvleis in veral die landelike areas deur proe-sessies in winkelsentrums en opvoedkundige programme aan nuwe verbruikers bekend te stel.

Volgens mnr. Simon Streicher, uitvoerende hoof van SAVPO, het die per kop-verbruik van varkvleis oor die afgelope twee jaar van 4,1kg tot 4,6kg per jaar toegeneem. “Dit is ’n 12% toename en alhoewel dit moeilik is om te aan te dui of hierdie groei in die landelike gebiede plaasgevind het, is die reaksie wat ons kry van ons bemarkingsveldtogte in die landelike gebiede onder swart mense, baie gunstig.”

Volgens mnr. Terry Strachan, uitvoerende hoof van die Royal Landbougenootskap, is die Royal skou, wat van 27 Mei tot 7 Junie 2016 sal plaasvind, die enigste landbouskou in die land wat vark- bees- en skaapkarkasse in die karkaskompetisie te siene het.

Landbou Weekblad