fbpx

Kwanalu

Grondmosie – populistiese politiek seëvier oor nasionale belang

 Agri SA het volle begrip vir die noodsaak van grondhervorming en die frustrasie met die oënskynlike stadige vordering en is verbind tot ordelike en volhoubare grondhervorming. Politiek en emosie het egter die botoon gevoer in die debat oor grond wat Dinsdagmiddag in die Nasionale Vergadering gevoer is.  Die EFF het ‘n mosie voorgestel wat die weg kan baan vir die skrapping of wysiging van die eiendomsklousule in die Grondwet.  Die ANC het die mosie, met enkele wysigings gesteun.  Die mosie is ook deur van die kleiner politieke partye gesteun. Die wysigings wat op aandrang van die ANC aangebring is behels dat die kwessie na die komitee wat verantwoordelik is vir die hersiening van grondwetlike kwessies verwys is en bring die mosie in lyn met die ANC se kongresbesluit, wat bepaal dat sodanige stap landbouproduksie moet verhoog en voedselsekerheid verbeter.

Rasionele redenasies oor die moontlike gevolge wat so stap kan inhou vir die landbousektor en die ekonomie in die breë was afwesig.  Die feit is dat finansiële instellings swaar belê het in die sektor en dat onteiening sonder vergoeding ook op die banksektor sal impakteer en waarskynlik daartoe sal lei dat finansiële instellings nie verder produksielenings aan landbouers beskikbaar sal stel nie.  Daarsonder kan boere nie saad, kunsmis, voer of implemente koop nie, en nie voortgaan om voedsel te produseer nie.  Dit kan lei tot voedseltekorte, prysstygings, voedsel verwante onluste en sosiale onstabiliteit.

Die ANC en EFF het duidelik ook nie erns gemaak met die identifisering van die ware feite rondom die mislukking van grondhervorming nie.  Dit wil voorkom asof die regerende party geen ag slaan op die bevindinge van die Hoëvlak Paneel op Sleutelwetgewing, wat deur die Parlement aangewys is en wat na deeglike ondersoek bevind het dat dit nie die eiendomsklousule of die vereiste dat vergoeding betaal moet word by onteiening is wat grondhervorming gekelder het nie, maar ‘n ontoereikende begroting, gebrekkige politieke wil, swak implementering en korrupsie.  Dit is skynbaar makliker om die Grondwet te wysig as om die ware probleme met grondhervorming te probeer aanspreek.

Agri SA sal deelneem aan die konsultasies wat nou gaan volg en sal die beste moontlike kundigheid gebruik om ‘n optimale impak op die proses uit te oefen.  Die organisasie sal ook regs- en ander advies oor die proses wat ontvou inwin. Agri SA sal swaar steun op die bevindinge van die ADS / Landbouweekblad / Agri SA grondoudit wat onder andere aantoon dat die mark dubbel die hoeveelheid hektare oorgedra het as wat deur die staat se programme oorgedra is.  Agri SA het ernstige vrae oor die staat se grondoudit wat onlangs vrygestel is, welke oudit uiters verwarrend is en ‘n skewe beeld van grondbesit skep. Agri SA is ten gunste van ‘n feite-gebaseerde benadering tot grondhervorming geskoei op vennootskappe en werk saam met ander rolspelers in die sektor aan ‘n strategie in die verband.

Dan Kriek, Agri SA se President het gewaarsku dat alle eiendomsbesitters se regte in gedrang kan kom en dat die wysiging van die eiendomsklousule ‘n stap terugwaarts sal verteenwoordig na ‘n verlede waar eiendomsbeskerming nie vir almal beskore was nie. Eiendomsreg is ‘n fundamentele reg wat wit en swart, arm en ryk se regte teen onregmatige staatsingryping beskerm.  Die ontkenning daarvan is uit pas met internasionale praktyk en nie in die nasionale belang nie, het Kriek gesê.

 

Uitgereik deur Agri SA, Direktoraat:  Korporatiewe Skakeling