Facebook Pixel

Kwanalu

Dan Kriek kap die ANC oor onteiening

Deur Alani Janeke

Netwerk 24

08 November 2019

“Artikel 25 is nie ’n struikelblok in die weg van grondhervorming nie en die wysiging van die eiendomsklousule sal nie volhoubare grondhervorming tot gevolg hê nie.”

Dit is een van die standpunte van Agri SA in sy voorlegging aan die parlement se ad hoc-komitee wat gelas is om wetgewing vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet op te stel. Die komitee het vandeesweek ’n werksessie gehou waar kenners en die publiek insette kon lewer.

Me. Annelize Crosby, beleidshoof vir grondsake by Agri SA, en mnr. SK Makinana, ’n direksielid van Agri SA, het die geleentheid bygewoon. Luidens ’n verklaring sê die organisasie dat ’n gedetailleerde sakelys nie beskikbaar was nie en dat verwarring oor die doel van die vergadering bestaan het.

Die organisasie sê terwyl sommige parlementslede van mening was dat die komitee ’n duidelike mandaat het om slegs op die wysiging van artikel 25 te konsentreer, hou Agri SA vol dat sy enigste mandaat is om sodanige wysiging van artikel 25 te verwerp.

Die ander standpunte wat Agri SA aan die komitee oorgedra het, is dat die mislukking van grondhervorming te make het met die mislukte toepassing van beleid, korrupsie, ’n gebrek aan politieke wil en onvoldoende finansiering.

Verder het die organisasie weer uitgewys dat ’n wysiging van artikel 25 ernstige ekonomiese gevolge vir die land kan inhou. Crosby het ’n versoek tot die komitee gerig om behoorlik van die moontlike katastrofiese ekonomiese gevolge van sodanige wysiging kennis te neem.

Skriftelike voorleggings

Die ad hoc-komitee het ingestem om skriftelike voorleggings van deelnemers te aanvaar. Agri SA het die komitee van ’n voorlegging voorsien, asook mnr. Dan Kriek in sy hoedanigheid as lid van die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou.

Kriek kritiseer in sy voorlegging onder meer die paneel se aanbeveling dat artikel 25 gewysig moet word en wys op foutiewe regsargumente in hierdie verband. Hy meld ook dat die paneel se voorstel polities van aard is.

Agri SA dui aan dat die organisasie van mening is dat onteiening van grond sonder vergoeding nie in ’n demokratiese samelewing – wat gegrond is op menswaardigheid, gelykheid en die beskerming van fundamentele regte – aanvaarbaar is nie.

“Daar kan met sekerheid gesê word dat die voorbehoude wat tydens die ANC-beleidskonferensie geopper is, nie meer as geloofwaardig beskou kan word nie,” sê Kriek. “Die ANC-regering kan nie meer beweer dat hierdie voorbehoude geldig en van toepassing is nie.”

Volgens Kriek moet die waarskuwingsligte wat vir die Suid-Afrikaanse ekonomie flikker, deel vorm van die konteks van dié debat. “Ons kan hoë vlakke van disinvestering in die ekonomie, voedselinflasie en streeksvoedselonsekerheid ervaar as ons eiendomsregte verwater.”

Agri SA het ’n fonds vir grond-en-omgewingsake geskep en sê hy sal voortgaan om die regte van sy lede te beskerm. “Ons doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners wat vooruitgang en inklusiewe ekonomiese groei nastreef om ons te ondersteun,” sê Kriek.