Facebook Pixel

Kwanalu

Congress Report 2014 – Afrikaans

Afrikaans

VERSLAG VAN DIE KWANALU KONGRES
GEHOU OP DONDERDAG, 4 SEPTEMBER 2014
BY DIE ROYAL SKOU, PIETERMARITZBURG
TEMA VAN DIE KONGRES
“Eiendomsregte in Suid-Afrika – Is dit in gevaar?”
In die lig van onlangse voorstelle, nuwe wetgewing en
verklarings deur die regering, is beduidende kommer uitgespreek.
Die kongres het oorweging daaraan geskenk of privaat eiendomsregte
in die lig van bogenoemde, in gevaar is.
1. Registrasie
2. Welkom
Die voorsitter, mnr. Michael Black, het die vergadering tot orde geroep en die tema van die
kongres bevestig. Hy het die gaste verwelkom naamlik, die adjunk-minister van landbou,
visserye en bosbou, generaal Cele, KZN se LUR vir landbou en landelike ontwikkeling,
mnr. Cyril Xaba, lewenslange ere-presidente, ere-presidente, genooide gaste, studente van
Cedara en Weston Landboukollege, verteenwoordigers van Eskom, verskeie
regeringsdepartemente, SAPD, SAPD Veediefstaleenheid, die pers, afgevaardigdes,
waarnemers en borge.
Verskonings is in die bywoningsregister aangeteken.
3. Skriflesing en gebed
Mnr. Christopher Hadebe het die kongres met skriflesing en gebed geopen.
4. Mosies
Die voorsitter het die kongres versoek om staande ‘n minuut stilte te handhaaf ter
herinnering aan diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het, asook diegene wat
sedert die kongres in 2013 slagoffers was van misdaad.
5. Konstituering van die kongres
Die HUB, me. Sandy La Marque, het bevestig dat daar behoorlik kennis van die kongres
gegee is. Met die verteenwoordigende afgevaardigdes teenwoordig, is ‘n kworum gevorm
en die kongres is behoorlik gekonstitueer. Nominasies vir die beskikbare setels aan
kommoditeite, agri-besighede en FWI is ontvang en die genomineerdes sal op die Raad
van Direkteure dien, daarom sal geen stemming plaasvind nie. Stemming vir ampsdraers
sal tydens die teepouse plaasvind.
6. Presidentsrede
Die voorsitter het sy toespraak aan die kongres voorgelê. ‘n Afskrif word hierby aangeheg.
Hy het gesê hy het inspirasie geput uit die volgende woorde van Abraham Lincoln:
“You cannot strengthen the weak by weakening the strong
You cannot help the wage earner by pulling down the wage payer
You cannot further the brotherhood of man by encouraging class hatred
You cannot help the poor by destroying the rich”
Hy het gepraat oor die uitdagings daargestel deur ekonomiese druk en politieke
onsekerheid wat boere in die gesig staar met verwysing ook na die onlangse droogte wat
ervaar is.
2
Dit was vir hom ‘n plesier om te verklaar dat sy versigtige optimisme oor die aanstelling van
mnr. Xaba as die LUR vir landbou en landelike ontwikkeling korrek bewys is, aangesien die
LUR deurlopend beïndruk het met sy vinnige vasvat van die uitdagings en geleenthede wat
die landbou in die provinsie in die gesig staar. Die departement sal die vooruitgang van die landbou in KwaZulu-Natal ondersteun en dit gee hom moed. Hy hoop die minister sal binne
12 maande terugkom en verslag doen oor die positiewe vordering wat gemaak is om sy
doelwitte te bereik.
Mnr. Black het gesê dit wil voorkom asof grondhervorming tot stilstand gekom het. Die
onlangse aankondigings deur die minister van grondhervorming het die noodsaak tot groter
klem op grondhervorming en die noodsaak tot verandering in die demografiese mengsel
van landbou in die land onder die soeklig geplaas. Hy het voorspel dat grondhervorming in
die afsienbare toekoms nog lank met ons sal wees en daarom het die minister hulp nodig
om planne deur te voer.
Uiteenlopende Kwanalu lede-kategorieë is ‘n saak wat geopper is, met die versoek dat
opsies ondersoek moet word. Dit sal gedoen word met die konstitusie in gedagte, sowel as
die verwagte uitwerking wat dit op die Unie se finansiële situasie sal hê ten opsigte van
enige veranderinge, die waardestelsel en die wyse waarop lidmaatskap tans funksioneer.
Hy het gesê dat ‘n KZN Kommoditeits- en Besigheidsforum tot stand gebring is en hy glo dit
sal ‘n multi-dissiplinêre platform daarstel wat interaksie met die provinsiale regering
moontlik sal maak teen ‘n agtergrond van gemeenskaplike belang.
Hy het gesê leierskap word dikwels as ‘n werk gesien, eerder as ‘n geleentheid om ‘n
verskil te maak en hy dink daaraan as die toepassing van ‘n verantwoordelikheid vir die
toekoms. Leierskap is die een bepalende toekomsfaktor waaroor mens absolute beheer
kan uitoefen, maar daar word helaas te min aandag aan geskenk. Hy het ‘n beroep gedoen
op boere in die ouderdomsgroep van 25-50, wat in die toekoms van die land en van die
landbou glo om op te staan en hulle eie toekoms uit te kerf.
Hy het gesê die Unie werk steeds stilweg en doeltreffend agter die skerms en uit die
openbare oog aan sake wat onskatbare waarde vir alle boere en grondeienaars inhou.
Hy het sy dank uitgespreek teenoor die personeel, die HUB, Manco, die Raad en sy twee
vise-presidente. Hy sien uit na ‘n positiewe jaar en hoop dat 2015 ‘n draaipunt sal inlui in
die oplossing van baie van die uitdagings wat tans in die gesig gestaar word.
Mnr. Phineas Gumede, vise-president, het die president vir sy rede bedank. Hy het verwys
na enkele van die sake wat genoem is en het voorgestel dat die presidentsrede aanvaar
word.
7. KZN LUR vir landbou & landelike ontwikkeling – mnr. Cyril Xaba
Die voorsitter het die LUR aan die vergadering voorgestel. ‘n Afskrif van sy toespraak is
aangeheg aan die lêerafskrif van hierdie verslag.
Die LUR het die Unie bedank vir die uitnodiging om die kongres toe te spreek. Hy waardeer
die stappe wat deur die Unie geneem is tot samewerking en om oplossings te vind vir die
talle uitdagings wat boere in die gesig staar. Hy het ondervinding van die talle gebiede
waarop boere die plaaslike ekonomie ondersteun en dit is in belang van die regering, sowel
as die Unie om saam te werk. Hy het kommer uitgespreek oor voedselsekuriteit en die
bedreiginge wat dit vir gemeenskappe inhou. Die LUR het gesê hy glo boere kan die
regering help om gehoor te gee aan eise vir voedselsekuriteit en hy glo in hulle. Hy het
gesê die aanmoediging van vrye ondernemings is een manier om voedselstelsels te vorm
en die regering het die ondersteuning van die landbou nodig om radikale transformasie in
die landbou teweeg te bring.
Hy het sy steun toegesê aan die besprekings wat by die kongres gaan plaasvind en stel
belang in die besluite wat geneem word. Hy het die boere ‘n vrugbare en suksesvolle
kongres toegewens.
8. Adjunk-minister generaal Cele
Die president het die adjunk-minister van landbou, bosbou en visserye, generaal Cele aan
die vergadering voorgestel. ‘n Afskrif van sy toespraak is aangeheg aan die lêerafskrif van
hierdie verslag.
Generaal Cele het gesê dit is ‘n eer om die kongres toe te spreek en het sy waardering
oorgedra.
Hy het gesê hy het op 2 September 2014 ‘n werkswinkel oor “Voedselsekuriteitstelsels vir
uitvoer” toegespreek, wat deur verteenwoordigers van die SAOG-streek bygewoon is, met
die doel om die streek te help om landbou-uitvoere te verhoog. Hy het gesê Suid-Afrika is
‘n ontwikkelende nasie wat strategiese ingrypings en programme nodig het om te poog om
die mandaat van die Nasionale Ontwikkelingsplan te volvoer. Die Kwanalu kongres is van
die grootste belang om begrip te bevorder vir die strategiese rigting waarin die regering
beweeg om Suid-Afrika op die pad vorentoe te help. Die departement het drie
voorkeurgebiede uitgelig as hulle strategiese fokus en dit is voedselsekuriteit,
werkverskaffing en bydrae tot die BBP. Om hierdie doelwitte te bereik, is Kwanalu se volle
deelname baie belangrik.
Hy het gesê hy is baie trots op die sektor, wat volgens Statistieke SA beduidende groei
getoon het en waarvan die groei volgehou moet word. Soms is die probleem wat op die
tafel gelê word, nie werklik die probleem nie maar daar is politieke ondertone. Die
departement sal steun verleen aan die skep van werksgeleenthede vir huishoudings in
kleinhoewe skemas in die landbou, agro-prosessering en die opgradering van toestande vir
plaaswerkers.
Die regering verleen erkenning aan Kwanalu se belangstelling in die ontwikkeling van
opkomende studente en voornemende jong boere wat ‘n beter begrip van die landbou moet
kry.

Om die doelwit om die voorkoms van hongeriges teen 2030 na nul te verminder, (tans gaan
42% van Gautengers vir drie dae saans honger slaap), moet nog baie gedoen word. Hy het
aangedui dat die departement sal voortgaan om die aantal hektaar grond onder produksie
deur verskeie inisiatiewe te vergroot.
Die jaar 2014 is ‘n belangrike jaar in die geskiedenis van die land omdat 20 jaar van vryheid
en demokrasie gevier word. ‘n Mens moet nie uit die oog verloor dat daar ‘n reuse taak
voorlê om te verseker dat die landbousektor ten volle getransformeer is nie.
Hy het afgesluit deur te sê die regering erken die belangrike rol wat die landbousektor speel
en dat dialoog ‘n uiters belangrike rol speel. Hy het veral verwys na die Beraad oor
Grondbesit wat vanaf 6 September 2014 gehou word en waar die uitdagings wat
grondhervorming in Suid-Afrika in die gesig staar, bespreek sal word. Hy het Kwanalu se
deelname hieraan as uiters belangrik bestempel. Aangaande die 50-50-plan wat deur die
minister van grondhervorming geopper is, het hy gesê dat die saak nog nie deur die ANC
bespreek is nie en geen besluite is nog in die verband geneem nie. Die saak word tans
deeglik bespreek.
Die regering is tans hard aan die werk aan sake wat onder hulle aandag gebring is rakende
uitvoere van landbouprodukte. Dit is belangrik om die opspoorbaarheid van produkte te bevraagteken. Die AU is ‘n groot produktemark, maar daar moet van struikelblokke ontslae
geraak word.
Nog ‘n aspek wat aangespreek moet word, is die veiligheid van boere en hy het bevestig
dat die regering daaraan aandag skenk.
Hy het Kwanalu alles van die beste en ‘n baie suksesvolle kongres toegewens.
Mnr. Phineas Gumede, die vise-president, het die LUR en die adjunk-minister vir hulle
toesprake bedank. Hy het gesê dat dit ‘n goeie ding sal wees as alle kongresse deur
politieke leiers toegespreek sou word. Hy glo dat opkomende boere hard moet werk om
kommersiële boere te word en die besluit berus by opkomende boere om vooruit te gaan.
Daar moet egter aandag geskenk word aan die besigheidskant van die saak.
Hy het die KZN LUR en adjunk-minister bedank vir hulle samewerking met Kwanalu en sy
lede.
9. Strategiese plan 2013/2014
Die HUB het die Strategiese Plan vir 2013/2014 voorgelê. ‘n Afskrif van die voorlegging is
aangeheg aan die lêerafskrif van hierdie verslag.
Sy het gesê die kantoor word bestuur in ooreenstemming met Agri SA se funksionele
gebiede, wat duidelike beleidsriglyne, deurlopendheid en eenvormigheid in die hantering
van sake meegebring het:
• Saakbestuur
– Natuurlike hulpbronne
– Arbeid en maatskaplike belegging
– Kommersiële beleid
– Transformasie en landelike ontwikkeling
– Landelike veiligheid & sekuriteit
– Kommunikasie en beeldbou
• Organisatories
• Algemeen
Gedurende die afgelope jaar het Kwanalu en sy geaffillieerdes deelgeneem aan die oorsig
oor landbou in KwaZulu-Natal en veral die hergroepering daarvan.
Daar is onder andere aandag aan die volgende sake geskenk:
• Leierskap
• Strategie en toerekenbaarheid
• Vennootskappe
• Navorsing, ontwikkeling en voorligting
• Ingenieurswerk
• Grondbewaringskomitees
• Infrastruktuur
• Onderwys en opleiding
• Geldsake – sleutelfunksie tot kernfokus
• Rampbestuur
• Fokus
• Hoogs gereguleerde omgewing
Die uitkoms was drie fokusvoorkeurgebiede waarop die departement en sy leiers moet
konsentreer:
1. Om ‘n raadgewende struktuur uit kommersiële landbou daar te stel; om vertroue
te bevorder en om groei en stabiliteit in die hand te werk.
2. Betrokke te raak by vennootskappe met die kommersiële sektor. Daar is baie
kommersiële boere wat maar al te gewillig is om te help met transformasie en
projekte ten opsigte van die oordra van vaardighede.
3. Bevoegdheid te verleen aan die navorsings-, voorligtings-, veeartsenykundige
en opleidingskomponente van die departement.
Wat betref grondsake en veral die Groenskrif oor grondhervorming, het sy gesê dat
beraadslagings reeds drie jaar aan die gang is. Kwanalu word ten volle in almal
verteenwoordig en insette is in die verband gelewer. Losstaande dokumente is vrygestel en
daar is tans 14 beleidsdokumente wat vrygestel is. Dit word nou bespreek en Kwanalu sien
daarna uit om aan die besprekings deel te neem. Sy het melding gemaak van hierdie 14
beleidsdokumente (voorlopige beleide en wetsontwerpe wat met die landbou verband hou)
en gesê alle aspekte van advies is ingewin naamlik, regsadvies, akademiese, navorsings-,
ekonomiese advies en beste praktyke – onder andere wêreldsake en insette van lede.
Agri SA het ‘n tegniese taakspan aangestel met ‘n mandaat om ‘n voorstel oor
grondhervorming te formuleer. As die voorstel deur Agri SA aanvaar word, sal dit aan die
minister voorgelê word.
Sy het bevestig dat vrugbare samesprekings tussen rolspelers in KZN, veral met die LUR,
gehou is. Die samesprekings het oor verskeie sake gehandel, byvoorbeeld veiligheid en
sekuriteit, omgewing, vervoer, DKRTS, rampbestuur, ens. Wat operasionele kwessies
betref, het sy gesê Kwanalu voer uitvoerige gesprekke met die nasionale departement van
grondhervorming in belang van sy lede. Om die waarheid te sê, is alle
geleentheidsplatforms benut om die belange van Kwanalu en sy lede te bevorder.
Kwanalu het baie proaktief opgetree ten opsigte van onder andere voorstelle oor:-
• Die verbetering van lewenstoestande
• Af- en op plaasnedersettings
• Gelykheidskemas vir plaaswerkers
• Sake wat verband hou met maatskaplike faktore
• Jeugontwikkeling
• AgriSEB sektorkode
Argumente moet met die regering en rolspelers in die sektor bespreek word en die gevolg
daarvan moet ‘n verenigde, vooruitstrewende sektor wees.
Sy het gesê die fundamentele beginsels waarop Kwanalu voortwerk, is
• Konstitusionele raamwerk
• Ekonomiese werklikhede
• Bestaande mandate
– Bespreek
• Beleide.
• Opheffing & transformasie
• Doen besigheid op ‘n ander manier
• Skep ons eie toekoms
• Beweeg weg van afhanklikheid van die regering
• Herken gevolge van besluitloosheid
• Noodsaak tot heldhaftige en dapper leiers
Sover dit transformasie en ontwikkeling aangaan, moet die projek vir die eenheid van
opkomende boere ontwikkel word om groei en volhoubaarheid in samewerking en
vennootskap met verskeie rolspelers daar te stel. Opkomende boere moet kommersiële
boere word.
Opsies met betrekking tot skikkings oor plase is bespreek en Kwanalu het ‘n span
professionele en grondhervormingspesialiste, boere en ervare
gemeenskapsontwikkelingsfasiliteerders nader getrek om hulp te verleen.
Een van die mees onlangse projekte is die Kwanalu Toekomstige Boer projek wat dit ten
doel het om ‘n databasis van jong aspirant toekomstige boere daar te stel, veral voorheen
benadeelde jong swart boere wat as vakleerlinge by bestaande boere kan leer.
Sy het verwys na die projek van die Templeton Stigting, wat baie suksesvol is. Die
metodologie van die gemeenskapspraktyk projek is gebruik om die projek van stapel te
stuur.
Kwanalu se veiligheids- en sekuriteitslessenaar word steeds in provinsiale strukture en op
die Nasionale Veiligheidskomitee verteenwoordig. Die doel is, om onder andere:
• Besonderhede en statistieke van misdade te versamel
• Kundige getuienis in hofsake te lewer
• Kwanalu se dokumente vir riglyne te verskaf
• Voortsetting van diens en opvolg
• Lede behulpsaam te wees met basiese advies oor kriminele sake, regsprosedure en
stappe wat geneem moet word
Sy het skuifies vertoon oor die statistieke van verskeie aanvalle en moorde in die provinsie
Aangaande kommunikasie en beeldbou het sy gesê dat die mediabelangstelling in Kwanalu
toegeneem het. Sy het genoem dat Kwanalu se webblad gewild is, dikwels besoek word en
daagliks bygewerk word. Geleenthede word ondersoek om boerderysake in die oog van die
verbruiker en die publiek te verbreed.
Sover dit organisatoriese sake aangaan, het sy die kongres verseker dat:
• Kwanalu binne sy konstitusie werksaam is
• Kwanalu die lede verteenwoordig in alle sake wat hulle in die sektor raak
• Met verwysing na lidmaatskap, dit word gedoen ingevolge die beleidsdokumente en
kodes
• Die geldsake en hulpbronne word goed bestuur.
10. Finansiële state vir die jaar geëindig 30 Junie 2014
Die HUB het verslag gedoen dat die finansiële jaar in Junie 2014 gesluit het en die oudit is
uitgevoer. Afskrifte van die finansiële state is aan die afgevaardigdes gepos. Sy het die
geouditeerde finansiële state aan die kongres voorgelê.
11. Jaarlikse lidmaatskap ledegeld & begrotingsvoorstel
Die HUB het die voorgestelde Inkomste en Uitgawe vir die jaar eindigende 2015 voorgelê.
Sy het die kongres in kennis gestel dat, in ooreenstemming met die konstitusie, die raad
van direkteure die begroting en relevante faktore nagegaan het en die volgende ledegeld
vir die jaar 2015/2016 voorgestel het:
• Kommersiële boere (BTW ingesluit)
– R2 122.00 indien ontvang teen 30 September 2015 of R2 245.00 indien daarna
ontvang
• Deeltydse / kleinhoewe boere (BTW ingesluit)
– R1 062.00 indien ontvang teen 30 September 2015 of R1 122.50 indien daarna
ontvang
• Voorheen benadeelde boere (BTW ingesluit)
– R300.00
Die begroting wat deur Kwanalu se raad van direkteure voorgestel en goedgekeur is vir
2015/2016, is aan die kongres voorgelê.
Die voorsitter het die vloer oopgestel vir vrae, maar geen vrae is gevra nie
11. Aanvaarding
Mnr. Ken Robinson het voorgestel dat die finansiële state, die begroting en die
ledegeldvoorstelle aanvaar word. Hy het boere bedank vir die betaling van hulle ledegeld en
het afgevaardigdes versoek om nie-lede aan te moedig om lede van Kwanalu te word.
Die finansiële state, begroting en ledegeldvoorstelle is gesekondeer en eenparig
AANVAAR.
12. Oorhandiging van toekennings
Die HUB het die kongres meegedeel dat die konstitusie toelaat dat erkenning verleen word
aan persone wat uitsonderlike diens aan die organisasie en/of landbou gelewer het en die
raad het aanbeveel dat:-
1) Mnr. Brian Victor Aitken ‘n toekenning as lewenslange ere-lid ontvang uit erkenning vir
sy verdienstelike, toegewyde en getroue diens aan georganiseerde landbou. Die
president het ‘n kort oorsig oor mnr. Aitken se jeugjare gegee en daarna toe hy
president van Kwanalu geword het.
Mnr. Aitken het die raad en personeel bedank vir die eer hom aangedoen. Hy het
opgemerk dat die uitdagings groot is en die pad vorentoe moeilik, maar met die huidige
leierskap, glo hy dat ‘n groot toekoms vir die boere voorlê.
2) Me. Sandy La Marque het ‘n sertifikaat as Voortreflike Steunpilaar ontvang.
Mnr. Robin Barnsley het gesê dit is ‘n voorreg om die sertifikaat aan die HUB, me. La
Marque te oorhandig vir haar toewyding en beginsels en haar pogings om die lede
persoonlik te leer ken.
Die voorsitter het die persone geluk gewens met hulle toekennings en hulle bedank vir al
hulle pogings en insette tot die landbou.
13. Dankie : Griekwaland-Oosgebied
Die voorsitter het namens die boere van Griekwaland-Oos dank oorgedra aan Kwanalu se
lede vir hulle bydraes en omgee tydens die veldbrande wat in daardie gebied ondervind is.
14. Erkenning aan borge
Die voorsitter het die borge bedank vir hulle ruimhartige bydraes en voortgesette steun aan
die kongres. ‘n Lys van borge is aangeheg aan die lêerafskrif van die verslag.
14. Tee
Die kongres verdaag vir tee.
15. Ampsdraers
Tydens die teepouse het die raad van direkteure vergader om die president en twee visepresidente
te kies.
Dit is: President : Mnr. Michael Black
Vise-president : Mnr. Phenias Gumede
Vise-president : Mnr. Andrew Buchan
16. Toespraak deur mnr. Dan Kriek, Voorsitter, Algemene Sakekamer Agri SA, Voorsitter,
Agri SA Natuurlike Hulpbronne Komitee, President Vrystaat Landbou en boer
Die voorsitter het mnr. Kriek aan die vergadering voorgestel. ‘n Afskrif van sy toespraak is
aangeheg aan die lêerafskrif van die verslag.
Mnr. Kriek het hom in die eerste plek as ‘n boer voorgestel en gesê die tema van sy
toespraak is “leierskap en vertroue.” Hy het gesê hy gesels met boere wat geheel en al
paniekerig is. Volgens hom is grondhervorming ‘n sukses omdat dit aan gesonde besigheidsbeginsels voldoen – daar kom egter twee bestanddele kort, naamlik leierskap en
vertroue. Baie is al gesê in die debat oor grondhervorming, maar ideologie en die waarheid
verskil van mekaar. Die woorde van president Mandela weerklink dwarsdeur die Grondwet
van Suid-Afrika. Die mense het gekies tussen die Grondwet van Suid-Afrika en ideologie.
Boere word kwaad maar besitreg is in die Grondwet ingebou. Daar is egter ‘n meer ernstige
sy aan hierdie saak – omgekeerde diskriminasie. Die toekoms behoort aan diegene wat wil
bou en nie aan die wat wil afbreek nie. Die probleem in Suid-Afrika is nie dat almal nie werk
het nie, maar dat elkeen nie ‘n stuk grond het nie.
Hy het verwys na me. Gill Marcus, president van die Reserwebank, wat gesê het dat ons
die ekonomie vir dekades sal moet laat groei omdat die tempo waarteen die ekonomie
groei uiters belangrik is.
Hy het melding gemaak van minister Gugile Nkwinti se onderliggende beginsels vir
grondhervorming:-
• Maak die landelike ekonomie vry van ras
• Demokratiese en regverdige grondtoewysing
• Volgehoue produksiedissipline vir voedselsekuriteit
• Langtermyndoelwitte – ontwikkeling verwys na gedeelde groei en beginsels
Hy het gesê almal is koorsig op soek na “Die Plan”. Daar is nie ‘n plan wat almal pas nie.
Die NOP is nog nie ten volle oorweeg nie en daar is nie planne wat aan alle politieke
ideologieë se vereistes sal voldoen nie. Planne is kompleks. Daar moet ingekoop word in ‘n
plan om dit billik en regmatig te maak. Daar is te veel rolspelers en ‘n omgewing moet
geskep word waar geleenthede verskaf word. Daar is ‘n oorvloed planne. Hy het gevra
hoekom planne werk en het gesê dit is omdat kommoditeite die kritieke faktore ken dat
hulle planne werk.
Hy het gesê Agri SA beskik oor ‘n tegniese werkgroep wat ‘n plan moet saamstel. By die
oorweging van beleid, moet die volgende vrae gevra word:-
• Sal dit die produktiewe vermoë en beleggingsklimaat in kommersiële landbou
versterk?
• Sal dit verseker dat meer mense in diens geneem word en so toegang verkry tot
inkomste om kos te koop?
• Sal die voorstel help om kos meer bekostigbaar te maak?
Grondhervorming is ‘n slagspreuk terwyl dit op gesonde besigheidsbeginsels gegrond
behoort te wees. Die neem van politieke besluite behoort aan ‘n vergange era. Groot
onsekerheid heers met grondplanne wat in die vooruitsig gestel word, die 50/50-model is
genoem asook grootliks onvoldoende begrotings en die heropening van grondeise tot 2019.
Volgens hom is die enigste plan of antwoord hiervoor om nee te sê en indien dit nie werk
nie, moet die wettige pad deur die Grondwetlike Hof gevolg word. Die antwoorde vir
grondhervorming lê by die privaatsektor. Ministers is nie boere nie en hulle werk nie elke
dag met syfers, ens. nie.
Die vermiste skakel is vertroue het hy gesê. Leierskap deur almal, ‘n verhouding met die
regering, om deur die regering vertrou te word en die behoorlike implementering van ‘n plan
en ‘n begroting – dit is wat kortkom. Weens ‘n gebrek aan eenheid in die landbou is vertroue
moeilik bekombaar. Die landbou het die gemeenskap ook nog nie oortuig dat dit ‘n sektor is
wat omgee nie.
Hy het boere aangemoedig om positief te bly en betrokke te raak. Daar is so baie voordele
wat die landbou op die regte pad kan hou. Boere het ‘n rol te speel en moet nie wegskram
van hierdie verantwoordelikheid nie.
Die voorsitter het hom vir sy toespraak bedank.
17. Toespraak deur regter Gildenhuys
“Die uitwerking van die heropening van die restitusie eise-proses op eiendomsreg in die
landbousektor, die kwessie oor regverdige en billike vergoeding en onteiening teenoor
ontneming.”
Die voorsitter het regter Gildenhuys aan die vergadering voorgestel. ‘n Afskrif van sy
toespraak is aangeheg aan die lêerafskrif van die verslag.
Regter Gildenhuys het die kongres bedank vir die voorreg om enkele punte, veral wetlike
uitdagings oor eiendomsbesitreg, met boere te deel.
Hy het gesê deur eerstens te kyk na onteiening teenoor ontneming, moet gekyk word na
artikel 25 van die Grondwet wat lui dat niemand van eiendom ontneem mag word nie,
behalwe ingevolge algemene toepassing van die wet en geen wet mag die willekeurige
ontneming van eiendom toelaat nie. Artikel 25 verleen heelwat grondwetlike beskerming.
Ontneming kan ‘n ernstige saak wees. Lande het tans uiteenlopende benaderings en hy
het ‘n voorbeeld in hierdie verband aangehaal. In Amerika word ontneming in ‘n ernstige lig
beskou, soveel so dat indien eiendomsbesitreg tot niet gemaak word, vergoeding
betaalbaar is.
As gekyk word na sommige van die nuwe wette, byvoorbeeld die Nasionale Waterwet, is dit
duidelik dat dit sekere magte aan die regering verleen om die water te bestuur en in die
proses kan die water na goeddunke aan enigiemand gegee word wat dit verdien. Ingevolge
die Wet het die regering die mag om water te beheer end dit kan as ‘n vorm van ontneming
beskou word.
Hy het ook verwys na die Wet op Minerale en Petroleumhulpbronontwikkeling, 2002.
Minerale en petroleumhulpbronne behoort aan alle Suid-Afrikaners en dit is die staat se reg
en plig om dit te beheer. In ‘n onlangse uitspraak in die Grondwetlike Hof, is gesê dat die
regering minerale onteien het, maar die Wet maak voorsiening vir talle oorgangsfaktore. Op
hierdie stadium moet Suid-Afrika egter nog wette ten opsigte van ontneming en onteiening
en vergoeding daarvoor daarstel.
Hy het gesê daar kan gepoog word om meer wette te maak met die oog op die
vermindering van besitreg. Daar is talle beleidsdokumente van die departement van
landelike ontwikkeling en grondhervorming. Hulle neem as beleidsriglyn die beginsel dat
landbougrond ‘n gemeenskaplike erfenis aan alle Suid-Afrikaanse burgers is. Dit is te
betwyfel of die regering die wetgewing sal deurlaat omdat regverdige en billike vergoeding
vereis word. Ingevolge die Grondwet, kan eiendom slegs onteien word deur betaling met
inagneming van die volgende beginsels, byvoorbeeld:
• Waarvoor word die eiendom tans gebruik
• Die geskiedenis van die verkryging en gebruik van die eiendom
• Die markwaarde van die eiendom
• Die omvang van direkte staatsbelegging en –subsidie met die verkryging en
voordelige kapitale verbetering van die eiendom; en
• Die doel van die onteiening
Om te bepaal wat die vergoeding moet wees, moet die markwaarde van die eiendom eers
vasgestel word en daarna moet bepaal word of enige van die ander beginsels ‘n verhoging
of verlaging regverdig.
Wat restitusie-eise betref, het hy gesê die wet bepaal dat ‘n persoon geregtig is op
restitusie op grond indien hulle van ‘n reg op grond ontneem is na 19 Junie 1913 as gevolg
van wette of praktyke rakende rassediskriminasie in die verlede. ‘n Reg op grond beteken
enige geregistreerde of ongeregistreerde reg op grond en mag die belange insluit van ‘n
huurarbeider en deelsaaier, gewoontereg belange, die belang van ‘n begunstigde ingevolge
‘n trustooreenkoms en voordelige okkupasie vir ‘n aaneenlopende tydperk van nie minder
nie as tien jaar voor die betrokke vervreemding. Restitusie van ‘n reg op grond beteken die
herstel van ‘n reg op grond of billike regstelling.

Hy het gesê as die gemeenskap wil boer, kan dit sinvol wees om geldelike vergoeding aan
te bied eerder as om aan elkeen ‘n klein stukkie grond te gee. Dit sal hulle in staat stel om
‘n plaas te koop waarop produktief geboer kan word. As iemand wie se grond vervreem is,
behoorlik daarvoor vergoed is, kan daar geen restitusie-eis wees nie.
Hy het gesê ‘n mens moet nie vergeet watter uitwerking die vervreemding van grond op
mense het nie. Hulle raak verbitterd en daar moet ‘n manier gevind word om hulle emosies
in bedwang te bring.
Op die pad vorentoe moet vir ‘n groter begroting voorsiening gemaak word en die vermoë
van die grondeisekommissaris moet verbeter word. Klaarblyklik is die grootste gedeelte van
grondhervorming onsuksesvol en selfs kommunale eienaarskap het misluk.
Die voorsitter het regter Gildenhuys bedank vir sy toespraak.
18. Toespraak deur advokaat Grace Goedhart
“Die bevordering en beskerming van die Beleggingswetsontwerp 2013, aangaande
onteiening en die moontlike wyer implikasies van die Grondwetlike Hofuitspraak in die saak
van Agri SA vir die beskerming van eiendomsregte oor die algemeen.”
Die voorsitter het advokaat Goedhart aan die vergadering voorgestel. ‘n Afskrif van haar
toespraak is aangeheg aan die lêerafskrif van die verslag.
In haar opening, het advokaat Goedhart gesê sy sal praat oor die doel van die
wetsontwerp, die relevansie van die wetsontwerp, die kwessie van strategie en algemene
observasie tot strategie.
Die doel van die wetsontwerp is om die SA regsraamwerk vir buitelandse beleggings by te
werk en te moderniseer, bi-laterale beleggingsooreenkomste uit te faseer, eenvormigheid
en sekerheid in internasionale verhoudings te verseker, beleggings te bevorder en te
verseker sodat dit met publieke belange ooreenstem en om ‘n balans tussen regte en
verpligtinge van beleggers in die hand te werk en gelyke behandeling tussen buitelanders
en SA burgers te verseker. Dit is nie gerig op onteiening of vervreemding van enige soort
nie.
Sy het die grondwetlikheid van die wetsontwerp verduidelik. Volgens haar is die
wetsontwerp nie duidelik uiteengesit nie en het dit ‘n baie wye betekenis. Daar is geen
aanduiding van hoe die baie wye maatstawwe toegepas moet word nie. Die wetsontwerp is
ontoelaatbaar vaag en daarom betekenisloos en onwerkbaar. Die alternatief is aanmatiging
teen die vervreemding van bestaande regte en teen kwetsende en onregverdige of
onredelike gevolge.
As die wetsontwerp eers gepromulgeer is, kan die strategie volgens haar wees om die
geldigheid van verskeie klousules as ongrondwetlik te bevraagteken. Die prys van vryheid
is ewige waaksaamheid. Ons wil almal in die toekoms belê.
Die president het advokaat Goedhart bedank vir haar toespraak..
19. Paneelbespreking en insette deur afgevaardigdes
Die president het die vloer oopgestel vir vrae en debat.
Mnr. Edsel Hohls, Melkprodusentevereniging, wou weet watter van die wette wat bespreek
is, hou die meeste kommer in.
Antwoord: Boere word aangemoedig om goeie regsadvies in te win, probleme te hanteer
en positief te bly. Adv. Goedhart het gesê elke saak het sy eie meriete en mens moet elke
saak afsonderlik bekyk.
Die president, mnr. Mike Black, het gevra of ‘n restitusie-eis weer heropen kan word nadat
dit afgehandel is.
Antwoord: Dit is nog glad nie in die hof getoets nie. Die eerste toets sal wees as die eis
deur die Kommissie van die hand gewys word, kan dit steeds met behulp van direkte
toegangsprosedures deur die hof aangehoor word. As die eis deur die Kommissie van die
hand gewys is en die eiser dien die eis weer in, moet nuwe feite en syfers ingedien word
voordat die saak kan voortgaan. Die Kommissie is egter nie ‘n geregshof nie. As ‘n hof
daaroor uitspraak gelewer het, sal dit finaal wees en kan geen herstel plaasvind nie.
Mnr. Nick Isabelle, Melmoth Boerevereniging wou weet wat die paneel van die Salem-saak
dink.
Antwoord: Hy is ingelig dat Agri SA steun verleen aan die grondeienaars wat appelleer,
aangesien die betrokke saak verreikende gevolge kan inhou.
Mnr. Scot Scott, Izotsha Boerevereniging het genoem dat alles glad verloop het in
Zimbabwe tot hulle president begin het om van regters ontslae te raak. Hy wou weet of die
paneel nie bekommerd is dat die wette of wetsontwerpe aanvaar sal word nie.
Antwoord: Adv. Goedhart is van mening dat die howe hulle goed van hulle taak kwyt en
elke saak word afsonderlik behandel. Sy het nie vertroue in die professie verloor nie.
Mnr. Glen Rafferty, Normandien Boerevereniging het gevra of enige boete opgelê word vir
die indien van vals eise en of die eienaar vergoed sal word vir ongeldige eise.
Antwoord: Regter Gildenhuys het geantwoord dat geen voorsiening gemaak word vir
vergoeding aan regskoste tensy die hof voorsiening gemaak het nie – dit is
kommerwekkend. Die hof sal ‘n blatant ongeldige eis hersien en besluit of dit toegelaat sal
word of nie. Dit moet egter blatant foutief wees voor die hof dit sal erken. Mnr. Kriek het
aangedui dat Agri SA ‘n geleentheid ondersoek om grondeienaars met regskoste te help
aangesien dit groot bedrae kan beloop as die geldigheid van eise onder andere betwis
word.
Mnr. Jan Smith, Ingogo Boerevereniging het gevra of die regering vertrou kan word en of
koste van die Kommissie verhaal kan word. Hy wou ook weet waarom boere skuldig is tot
hulle onskuldig bewys word, waarom die proses nie omgekeer kan word in die geval van
ongeldige eise waar boere hulle plase verloor het nie en waarom die departement van
landbou geen steun verleen aan kommersiële boere nie en wie wil geld hê in plaas van
grond om op te boer – hoe kan die verskil bepaal word.
Antwoord: Dan Kriek het geantwoord dat vertroue nodig is tussen die regering en die
private sektor. Die private sektor is in ‘n verhouding met die regering en besigheidsplanne
kan goed werk. Vertroue is nodig om op te bou. Daar moet ‘n proses wees waar ‘n besluit
uiteindelik geneem kan word. Die landbou/boere moet uit een mond praat as ‘n eenheid.
Die gemeenskap glo dat die landbou/boere nie omgee nie en sulke swak verslae moet reg
hanteer word. Dit is ‘n politieke noodsaaklikheid dat daar klein- en mediumskaal boere
moet wees en kleinskaalboere moet ook ondersteuning geniet.
Op die vraag of die meerderheid eisers geld of grond wil hê, het hy gesê die oorgrote
meerderheid het geldelike vergoeding ontvang, maar sommige wou dit hê vir aftrede en dit
was nie goed genoeg vir voedselsekuriteit nie. Howe moet oortuig word dat daar regtig
geboer wil word, anders moet geldelike vergoeding betaal word.
Die voorsitter het mnr. Kriek, regter Gildenhuys en advokaat Goedhart bedank vir hulle tyd
en insette en aan hulle blyke van waardering oorhandig.
20. Afsluiting
Mnr. Black het afgevaardigdes en waarnemers bedank vir hulle bywoning, asook die
amptenare van die onderskeie departemente, Kwanalu se personeel vir hulle werk, die
media en pers vir hulle ondersteuning en die borge. Hy het almal ‘n veilige reis huis toe
toegewens.
Mnr. Sisa Damoyi het die vergadering afgesluit met gebed.
Die voorsitter het die vergadering gesluit verklaar om 13:45.
21. Middagete is met die sluiting van die kongres bedien.
Kwanalu
Posbus 100123
3209 SCOTTSVILLE

Tel: 033-342 9393
Faks: 033-345 7141
e-pos: director@kwanalu.co.za
4 September 2014
NA-KONGRES NOTA
Die verkiesing van die bestuurskomitee het by die raadsvergadering na die kongres plaasgevind
Die volgende lede is saam met die president en vise-president op Manco verkies:-
Mnr. Christopher Hadebe Mnr. Scot Scott
Mnr. Sisa Damoyi Mnr. Ken Robinson