fbpx
  • Subscribe
  • Login
+27 33 342 9393

General Information and News Monitoring

of interest...

Congress Report 2010 – Afrikaans

VERSLAG VAN DIE KWANALU KONGRES
GEHOU OP DONDERDAG 9 SEPTEMBER 2010
BY DIE ROYAL SKOU, PIETERMARITZBURG

KONGRES-TEMA
Met erkenning aan die regte en verpligtinge wat aan ons opgelê is
deur ons land se grondwetlike en wetlike raamwerk,
waarin ons as professionele besigheidsmense werksaam is,
is die Kongres op soek na ‘n positiewe pad vorentoe vir ons as sektor.

1. Registrasie

2. Verwelkoming
Die voorsitter, mnr. Robin Barnsley, het die vergadering tot orde geroep en alle boere en gaste, wat die beamptes van die Departement en Agri SA insluit, verwelkom. Hy het die beamptes van die Departement versoek om Kwanalu se teleurstelling oor te dra aan hulle HUB en LUR omdat laasgenoemde persone nie gereageer het op Kwanalu se uitnodigings aan hulle om die kongres by te woon nie.

Verskonings is in die bywoningsregister aangeteken.

3. Skriflesing en gebed
Mnr. Dougal MacLean het die Kongres met Skriflesing en gebed geopen. Hy het gesê uit die oogpunt van ‘n boer, wil dit voorkom asof daar altyd ‘n opdraande stryd is om te stry, maar daar is hoop. Ontdek God se wil en word vry. God gee die krag van liefde en nie van vrees nie.

Die voorsitter het mnr. MacLean vir sy woorde bedank.

4. Mosies
Die voorsitter het die Kongres versoek om te staan en ‘n oomblik stilte te handhaaf ter herinnering aan diegene wat geliefdes aan die dood moes afstaan, asook alle slagoffers van misdaad sedert die 2009-kongres.

5. Konstituering van Kongres
Die HUB, mev. Sandy La Marque, het bevestig dat daar behoorlik kennis van die Kongres gegee is. Met die verteenwoordigende afgevaardigdes teenwoordig, is ‘n kworum gevorm en die Kongres behoorlik gekonstitueer. Aangesien nominasies ontvang is vir die beskikbare setels vir kommoditeite, agri-besigheid en FWI, sal sodanige genomineerdes in die Raad van Direkteure dien en geen stemming sal gehou word nie.

6. Aankondigings
Die HUB het die kongres-tema soos hierbo aangehaal, en het deelname deur almal in alle debatte en terugvoering aan hulle kiesafdelings, aangemoedig.

7. President se toespraak
Die vise-president, mnr. Phenias Gumede, het die voorsitterstoel ingeneem terwyl die voorsitter sy presidensiële rede aan die Kongres voorgehou het. ‘n Afskrif van sy rede is aan hierdie verslag geheg.

Die voorsitter het gesê dat die landbousektor ‘n belangrike rol speel om die nasie en streek te voed, deur die daarstelling van werksgesleenthede en om ‘n positiewe bydrae te lewer tot die welstand van die gemeenskap.

Die afgelope jaar was vol uitdagings, veral met die ineenstorting van die wêreld-ekonomie.

In die jaar wat verby is, was Kwanalu aktief betrokke op die volgende gebiede:-

· Transformasie en Landelike Ontwikkeling
· Landelike Veiligheid en Sekuriteit
· Natuurlike Hulpbronne
· Arbeids- en Maatskaplike Investering
· Kommunikasie en Beeldbou
· Kommersiële Beleid

Hy het veral klem gelê op sake soos misdaad, veiligheid en sekuriteit en grondhervorming. Die stadige pas waarteen grondhervorming geskied lei tot verhoogde emosies in die landelike gebiede en dit het twee dinge tot gevolg, naamlik ‘n verhoging in geweldpleging en die vyandige reaksie deur beleidmakers om wat beskou word as ‘n mislukte beleidsimplementeringsprogram, te versnel.

Hy het die senior lede van die SAPD bedank wat oor die algemeen opreg en akkommoderend probeer om die misdaadvlaag stop te sit. By die inligtingsvergaderings is ooreengekom dat boere aktief moet deelneem aan strukture op plaaslike vlak om kommunikasie en verhoudinge te bevorder. Die ineenstorting van hierdie strukture is ‘n struikelblok in die weg van doeltreffende besigheidsbedryf en ‘n bedreiging vir die veiligheid van lewens, huis en haard.

Die voorsitter het gesê die huidige situasie rakende grondhervorming is onhoudbaar en onvolhoubaar. Hy het verwys na die Groenskrif wat nog nie sy verskyning gemaak het nie.

Daar was oproepe tot verhoogde staatsingryping in die grondhervormingsproses en die volgende is opgehaal:-

· Hersiening van die “gewillige koper, gewillige verkoper-” beginsel
· Die plasing van ‘n beperking op die aantal hektaar wat deur ‘n individu besit mag word
· Die Staat moet die reg verleen word tot eerste weiering vir alle eiendomme wat in die mark kom
· Hersiening van die totale eiendomstelsel met die oog op die verbod/beperking van eiendomsregte
· Nuwe eiendomswetgewing.

Hy het Kwanalu se kommer uitgespreek dat die onderliggende redes vir stadige en ondoeltreffende grondhervorming, bewerings is dat die kommersiële boerderysektor ‘n aktiewe en opsetlike struikelblok is in die weg van die implementering van die grondhervormingsproses, terwyl daar duidelike bewyse teen grondhervormingsbeamptes is van korrupsie en wandade, blatante versaking van pligte en leuens om swakhede toe te smeer.

Hy het gesê Kwanalu het nooit die belangrikheid van die grondhervormingsprogram misken nie en het ook nooit die –program teengestaan nie, maar weens politieke nalatigheid, is twee uiters belangrike forums op ‘n syspoor gerangeer. Albei die forums is tot stand gebring om die byeenkoms te hanteer van ‘n wye verskeidenheid belangegroepe wat in die grondhervormingsarena betrokke is. Die gevolg van hierdie nalatigheid, was ‘n kookpot van emosie in landelike gebiede.

Landbou kan nie agteroor sit terwyl die Staat swak-deurdagte en potensieel skadelike beleidsvoorsienings maak nie.

Kwanalu se posisie is glashelder:-

· Grondhervorming moet ondersteun word binne die bepalings van die Grondwet en die letter van die wet van die RSA
· Kwanalu sal nie by besprekings en onderhandelings betrek word, wat in teenstelling is met die doeltreffende werksaamhede op die vrye mark nie.
· Steun aan die noodsaak van grondhervorming het gelei tot ‘n aanbod van steun deur Kwanalu aan die Staat met die oog op die doeltreffende implementering van bestaande grondhervormingsbeleid wat gemik is op volhoubare landelike ontwikkeling en ‘n verbeterde lewe vir almal.

Op nasionale vlak het Kwanalu deelgeneem aan en belangrike insette gelewer in gesprekke met die ministerie van landelike ontwikkeling en grondhervorming, die hoof-grondeisekommissaris en senior regslui.

Hy het gesê die oorgrote meerderheid boere is besigheidsmense wat besigheid bedryf in ‘n uiters uitdagende politieke, ekonomiese en wetlike omgewing wat van hulle vereis om ‘n vooruitdenkende , pragmatiese benadering tot hulle probleme te handhaaf.

Ter afsluiting het mnr. Barnsley gesê, soos hy dit sien, is boere ‘n gemeenskap wat positief en aktief deelneem aan sake wat hulle raak om ‘n beter toekoms te vorm deur ‘n positiewe, beginselvaste en uitdagende benadering tot sake waarmee hulle te doen het.

Hy het die boere bedank vir hulle ondersteuning die afgelope jaar.

Mnr. Gumede het mnr. Barnsley bedank vir dit wat hy die afgelope jaar vir Kwanalu beteken het. Hy het sy dank uitgespreek teenoor mnr Barnsley se gesin en vennote, vir hulle bereidwilligheid om hom toe te laat om Kwanalu te lei en hulle versoek om hom dit vir nog ‘n jaar te gun.

Hy het Kwanalu se personeel, die Raad en Manco bedank en voorgestel dat die president se toespraak aanvaar word.

8. Strategiese plan 2009/2010
Die HUB het gesê dat die Strategiese Plan vir SA Landbou Kwanalu se riglyn bly in die hantering van sake. Die organisatoriese struktuur het aan Kwanalu relevansie en geloofwaardigheid verleen. Sy het gesê lidmaatskapsyfers neem steeds toe, maar inkomste stroom nie so geredelik in nie. Kwanalu beskik oor ‘n goeie kommunikasiestruktuur, d.i. e-pos, webblad en SMS.

Vraelyste het aangedui dat die meerderheid lede van mening is dat Kwanalu aan die regte sake aandag skenk.

Wat grondsake betref, het Kwanalu verskeie wetsake behandel. Mev. La Marque het bevestig dat ‘n vergadering met die Provinsiale Moniteringsforum vir Grondregte binnekort sal plaasvind. Met verwysing na restitusie, bestaan daar nog uitdagings ten opsigte van departementele finansiering, onttrekking uit die Staatskoerant, begrotingsgebreke, ens. Kwanalu sal voortgaan met samesprekings met die Departement om ‘n oplossing te vind.

Sy het melding gemaak van die Groenskrif oor Landelike Hervorming en Grondhervorming, wat billike toegang tot grond en volhoubare grondgebruik ten doel het deur die hersiening van die huidige grondeiendomstelsel. Besorgdheid is uitgespreek oor die dokument..

Die Wet op Eiendomsreg van Grond is ter tafel gelê, maar verder is daar niks van gehoor nie. Om te hoor hoe die saak aangepak moet word, het Kwanalu as ‘n organisasie die saak met Agri SA bespreek. Kwanalu het die volgende standpunt ingeneem:-

· Vrye mark beginsels
· SA Grondwet
· Wetlike raamwerk/mening
· Databasis vir grond
· Formuleer ‘n beleid vir Landelike Ontwikkeling
· Wet op Eiendomsreg van Grond
· Kyk na ekonomiese, investerings
– GDP-impak
· Internasionale beste praktyk modelle
· Kommunikasie en verhouding met rolspelers

Vir ‘n hele paar jaar het die regering ‘n grondoudit van landboueiendom teengestaan en dit het nou nog nie plaasgevind nie.

Die HUB het gesê by gebrek aan ‘n grondoudit, het Kwanalu se Raad van Direkteure aan die organisasie ‘n mandaat verleen om voort te gaan met ‘n oudit onder Kwanalu se leierskap, waarvan die intellektuele eiendom in besit van Kwanalu sal bly. ‘n Vraelys en praktiese implementeringsplan is opgestel en is in ‘n paar gebiede geloods. Die HUB het beklemtoon dat die sukses van die grondoudit alleen sal afhang van die rol wat die Boereverenigings sal speel om werklik die gebiedspesifieke grondoudits uit te voer.

Mev. La Marque het melding gemaak van die Ontwikkelingslessenaar met duidelike verwysingsvoorwaardes, wat suksesvol bestuur word.

Sy het verwys na ‘n opname wat deur die kantoor gedoen is, wat aangedui het dat die meerderheid boere gewillig sal wees om by grondhervorming betrokke te wees. Sy het ook melding gemaak van verlede jaar se resolusie oor Landelike Veiligheid en Sekuriteit wat aanvaar is en wat Kwanalu se onvermoeide aandag geniet het. Dit lui soos volg:-

“Kriminele aktiwiteite op plase lei tot aanmerklike finansiële verlies aan die sektor, terwyl die vertroue, trots en waardigheid van boere en die breër landelike gemeenskap ondermyn word. Die Kongres glo dat die betrokke owerhede en politieke en gemeenskapsleiers ‘n duidelike en aktiewe rol moet speel ter bekamping van die kommerwekkende toename in sodanige aktiwiteit, wat lei tot ‘n geleidelike oorname en omverwerping van die regte van wetsgehoorsame burgers.”

Dit het gelei tot die erkenning van die probleem en ‘n hernude poging deur rolspelers om na ‘n oplossing te soek.

Sy het bevestig dat Kwanalu se Veiligheids- en Sekuriteitslessenaar doeltreffend is, maar het beklemtoon dat kommunikasie van uiterste belang is.

Wat natuurlike hulpbronne betref, het sy gesê dat dit gering mag voorkom as dit met vorige sake vergelyk word, maar probleme oefen invloed op boere uit. Kwanalu is betrokke by sake rakende:-

· Wateraangeleenthede – registrasie van damme
· Paaie – vraelys oor paaie is aan Agri SA voorgelê
· Telekommunikasie
· Omgewing – Ontwikkelingswet sal binnekort bespreek word
· Elektrisiteitstoevoer
· Klimaatsverandering
· Rampe – ‘n Vraelys oor droogtes is aan boereverenigings gestuur – aandag moet geskenk word aan droogteverligting.

Die plaaswerkerberaad is bygewoon, waar die volgende oor die landbou gesê is:-

“Die landbousektor kan slegs bydra tot landelike ontwikkeling en die posisie van plaaswerkers tot die mate waarin dit self volhoubaar winsgewend en mededingend is en deur regeringsinstellings ondersteun word.”

Sy het gesê die landbou is die mees prominente werkgewersektor in die oorwegend landelike wyke en munisipaliteite.

Sy het boere aangemoedig om deel te word van plaaslike strukture wat dienslewering verskaf.

Mev. La Marque het gesê Kwanalu het vergaderings gehou met die departement van arbeid, wat proaktief is in die aanspreek van probleme.

Met verwysing na munisipale eiendomsbelasting, het sy bevestig dat Kwanalu sal voortgaan om druk op hierdie gebied uit te oefen. By die openbare verhoor is insette gelewer, maar geen terugvoering is nog ontvang nie. Met verwysing na die regsaak, het sy bevestig dat dit in die laaste stadium is en lede sal op hoogte van die vordering gehou word.

Wat kommunikasie betref, het sy gesê Kwanalu ontvang toenemende aandag van die media en volgens haar is dit ‘n manier om openbare persepsies te verander. Lede gebruik inligting wat op Kwanalu se webblad verskyn en positiewe artikels verskyn in die pers.

Mev. La Marque het melding gemaak van verskeie ander vergaderings en gebeure wat deur Kwanalu georganiseer is.

Sy het afgesluit deur te sê dat sy glo Kwanalu is op die regte pad. Baie werk lê voor, maar synde die georganiseerde struktuur wat dit is, kan Kwanalu invloed uitoefen.

Die voorsitter het die HUB bedank vir haar verslag.

9. Finansiële State vir die jaar geëindig op 30 Junie 2010
Die HUB het gesê dat die oudit voltooi is en dat afskrifte van die finansiële state aan die afgevaardigdes gepos is. Sy het die geouditeerde finansiële state aan die Kongres voorgelê.

10. Jaarlikse ledegeld & begrotingsvoorstel
Die HUB het die Kongres ingelig dat, ingevolge Kwanalu se konstitusie, die Raad van Direkteure die volgende ledegeld vir die jaar 2011/2012 vasgestel het. Dit is:

· Kommersiële boere (BTW ingesluit) – R1 528.70 indien dit teen 30 September 2011 ontvang is of R1 617.65 indien daarna ontvang word
· Deeltydse/kleinhoewe boere (BTW ingesluit) – R765.10 as dit teen 30 September 2011 ontvang is of R808.80 indien dit daarna ontvang word
· Voorheen benadeelde boere (BTW ingesluit) – R207.00

Die begroting vir 2011/2012, wat deur Kwanalu se Raad van Direkteure aanvaar is, is aan die Kongres voorgelê.

11. Aanvaarding
Die vise-president, mnr. Rod Freese, het die HUB en haar personeel vir hulle werk bedank. Hy het voorgestel dat die finansiële state, die begrotings- en die ledegeldvoorstel aanvaar word. Dit is gesekondeer en eenparig AANVAAR.

12. Toespraak deur mnr. Louw Steytler, Uitvoerende Komitee, Agri SA
Die voorsitter het mnr. Steytler aan die vergadering voorgestel.

Mnr. Steytler het groete van die president van Agri SA, mnr. Johannes Moller oorgedra. Hy het mnr. Gumede se versoek dat mnr. Barnsley vir ‘n verdere termyn as president van Kwanalu aanbly, gesteun.

Hy het gesê in vandag se lewe is dit belangrik om redenasies op ekonomiese feite en die waarheid te grond. Hy het gesê in die Vrystaat, waar die regering sy burgers gefaal het, het die organisasie deur harde werk daarin geslaag om die regering sover te kry om die grens te patrolleer.

Dit neem lank om probleme op te los, maar as ‘n mens volhard, kan daar oplossings kom.

Hy het gesê as iemand met die wetlike regte van landsburgers inmeng, hulle voor die Konstitusionele Hof gedaag moet word. Deur voedsel te verskaf, belê boere in die toekoms.

Hy het boere aangemoedig om nie apaties te wees nie en het gesê hulle moet hoorbare insette lewer.

Die voorsitter het mnr. Louw bedank vir sy toespraak.

13. Erkenning aan borge
Die voorsitter het al die borge bedank vir hulle ruim borgskappe ten opsigte van die Kongres.

14. Gedenkfontein en -tuin
Die voorsitter het gesê daar is reeds aandag geskenk aan misdaad en sekuriteit. Daar was nare ondervindings met moorde op boere, werknemers en werkers. Hy het gemeld dat ‘n Gedenkfontein- en tuin in 2002 deur die RAS en Kwanalu opgerig is ter herinnering aan diegene wat geliefdes moes afstaan en ook die slagoffers van misdaad in die landbougemeenskap. ‘n Hertoewydings- en kranleggingseremonie is gehou.

Kongresgangers het na die Gedenkfontein en –tuin beweeg, waar enkele toesprake gemaak is voordat kranse gelê is deur Kwanalu, die Royal Landbougenootskap (RAS) en verskeie boereverenigings.

15. Tee
Die Kongres het verdaag vir tee.

16. Scenario : Kwanalu se beleidsposisies soos gestel deur die president, mnr. Robin Barnsley
Die voorsitter het gesê:-

· Kwanalu is ‘n onafhanklike, vrywillige nie-regerings organisasie van boere en landelike landsburgers wat verenig is om hulle probleme te ontleed en aksie te formuleer ter oplossing van die probleme.
· Kwanalu streef na die algemene welvaart van alle aspekte van boerdery en landelike lewe deur ekonomiese geleenthede, maatskaplike vooruitgang en verbetering in opvoeding.
· Kwanalu se standpunt is dat besitreg en persoonlike vryheid deur die Suid-Afrikaanse Grondwet gewaarborg is. Dit is noodsaaklik vir algemene welvaart en sodanige vryheid moet verdedig word.
· Kwanalu glo dat ekonomiese voortuitgang die beste bereik word in ‘n vrye mark stelsel.
Kwanalu se aktiwiteite kan gemeet word aan kernstrategieë.

Die ses sleutelgebiede, soos genoem in die president se toespraak, is in lyn gebring met dié van Agri SA en ander provinsies. Kwanalu volg ‘n sterk beleidsrigting en maak nie toegewings of wyk nie af van die beskerming van die SA Grondwet en die regte wat daarin vervat word nie.

Aangaande transformasie en landelike ontwikkeling, is die grootste aftakelingsfaktor in die landbousektor in KZN die regering se versuim om die drie bestaande programme van grondhervorming, naamlik restitusie, herverdeling en die hervorming van besitreg, te implementeer.

Kwanalu was deurentyd ‘n ondersteuner van grondhervorming en sal daarmee voortgaan binne die bepalings van die Grondwet en die letter van SA wetgewing. Hy het gesê Kwanalu sal nie betrokke raak by besprekings en onderhandelings wat in teenstelling is met die doeltreffende werking van die vrye mark nie. Die skending van regte is onaanvaarbaar.

Hy het verwys na die resolusie oor landelike veiligheid en sekuriteit wat by die 2009-kongres aanvaar is en het gesê Kwanalu het aandag geskenk daaraan.

Sover dit natuurlike hulpbronne en infrastruktuur aangaan, het mnr. Barnsley gesê Kwanalu se lede vind dit moeilik om te werk en voedselproduksie te verseker terwyl die reg tot die gebruik van natuurlike hulpbronne en die vermoë van landelike infrastruktuur afneem.

Die verlies aan produktiewe landbougrond, aan behuising, myne en besigheidsontwikkeling, is nog ‘n aspek wat druk op die sektor plaas.

Kwanalu steun:-

· Die volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne
· Die beskerming en gesonde balans van natuurlike hulpbronne
· Die beperking van die koolstof en water voetspoor en teenoptrede teen klimaatsverandering
· Navorsing, ontwikkeling en behoud van kundigheid vir volhoubare bestuur
· Deelname in plaaslike strukture wat dienslewering verskaf

Kwanalu gaan voort om mense aan te moedig om gehoor te gee aan arbeids- en verwante wetgewing en sal steeds ‘n positiewe rol speel om probleme wat mag opduik aan te spreek.

Kwanalu speel ‘n strategiese rol om homself op te hef en tussen sleutelgehore te posisioneer.

Aktiewe kommoditeitsorganisasies, wat te make het met bepaalde kommoditeitsverwante sake, is by Kwanalu geaffilieer.

Ter afsluiting het hy gesê:-

· Kwanalu streef na die algemene welvaart van alle aspekte van boerdery en landelike lewe deur ekonomiese geleenthede, maatskaplike vooruitgang en verbetering van opvoeding.
· Kwanalu se standpunt is dat besitreg en persoonlike vryheid gewaarborg word deur die SA Grondwet. Dit is noodsaaklik vir die algemene welvaart en moet verdedig word.
· Ekonomiese vooruitgang word die beste bereik in ‘n vrye mark stelsel.

17. Rede deur prof. Mohammad Karaan, Dekaan van die Fakulteit Agri-Wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, Nasionale Beplanningskommissie
“Die Landbousektor in Perspektief”

Die voorsitter het prof. Mohammad Karaan aan die vergadering voorgestel.

Prof. Karaan het sy waardering uitgespreek oor die feit dat studente na die Kongres genooi is.

Aangaande die perspektiewe oor landbou in die toekoms, het hy gesê dit is onseker wat in die toekoms voorlê. Hy het gesê ons kan dit in oënskou neem deur dit in die konteks te plaas van wat ons aan ons kinders sal sê as ons graag sou wou hê hulle moet tot die boerdery toetree. Hy het gesê die aard van industriële lewe is dat ons meer daaruit neem as wat ons teruggee. Meer natuurlike en onstabiele rampe kom voor en die toekoms lê in dit wat ons vir die onderste biljoen doen. As na die toekoms gekyk word, is daar geen sekerheid dat ons genoeg voedsel vir mense kan produseer nie, maar as ons kan, sal dit moontlik van lae gehalte wees. Omdat ons nie die gevolge van geneties geproduseerde voedsel verstaan nie, sal ons kinders en hulle kinders ly as gevolg van die kos wat hulle eet.

Daar is ook die probleem van ‘n waterlose wêreld waar bestaande water hertoegewys sal word, maar water sal nie so geredelik beskikbaar wees nie.

Tegnologie laat toe dat groot hoeveelhede voedsel te goedkoop geproduseer word. Die oorvloed- en gebreksindroom sal hier van toepassing wees. Die meerderheid voedselaankopers kom uit die middelklas, wat 20% van die bevolking uitmaak en as dit tot 40% verhoog, sal hulle bestedingsmag afneem, dog voedselpryse sal toenem. Dit sal meer mense honger laat.

Kapitalisme is vernietig deur menslike hebsug. Die geldmarkte het in duie gestort en nog ineenstortings kan moontlik in die toekoms voorkom.

Die ekonomie het boere genoop om hulle bedrywighede uit te brei en dit het die aantal boere minder en minder laat word. 70% van die landbou bestaan uit bestaansboere, wat slegs hulle uitgawes dek. Produsente gebruik te veel kapitaal vir te min opbrengs. Geld vloei uit eerder as in en kinders gaan ‘n haglike toekoms tegemoet.

Hy het gesê menslike ontwikkeling sal laag wees as dit nie deur landbou onderhou word nie. Hy het gesê irrasionele oorvloed bestaan as mense leef om te eet en nie eet om te leef nie en wanneer arm mense geld op onnodige dinge spandeer. Kinders word verwen en word so van die natuur verwyder en verloor hulle geestelike aard. Hy het gesê samelewings stort ineen as die mens geen verband meer met die natuur het nie.

Prof. Karaan het gesê ons eintlike rol is nie om voedsel te produseer nie, maar om die aarde te bewaar.

Die doelstellings van die Nasionale Beplanningskommissie is:-

· Nasiebou – hoe om ‘n nuwe samelewing tot stand te bring
· Hoe om ‘n ekonomie tot stand te bring
· Hoe om menslike toestande te verbeter
· Hoe om materiële toestande te verbeter
· Die vorming van instellings

Hy het gesê dit is nie maklik om ‘n nasie te bou nie. Mense vertrou mekaar nie en word aangedryf deur individuele belange teenoor gemeenskaplike belange. Ons moet fokus op dit wat verenig, eerder as dit wat verdeel.

Geen samelewing kan voorspoed beleef sonder ongedwongenheid nie. Wat Suid-Afrka nodig het, is ‘n verenigde landbou. ‘n Deeglike groeistrategie moet aan die regering voorgelê word.

Aangesien die landbou groot getalle mense in diens het, kan die aangeleentheid rakende werkverskaffing deur die landbou aangespreek word.

Hy het gesê daar is plek vir kleinskaal boere omdat hulle ‘n landelike leefstyl handhaaf om te bestaan. Hulle is die broeikas van môre se boere. Dit is ‘n uitdaging aan die kommersiële sektor om die ontwikkelende sektor by te staan.

Hy het gesê boere is die bewaarders van die grond en moet kyk na meer volhoubare boerderypraktyke. Die landbou is multi-funksioneel en boere moet op die grond gehou word. Hulle moet eerstens die hawe en broeikaste van die samelewing wees en tweedens moet hulle voedsel produseer.

Die voorsitter het prof. Karaan bedank vir sy toespraak.

18. Toespraak deur mev. Annelize Crosby, Agri SA Parlementêre Skakelbeampte, Wets- en Beleidsadviseur
“Grondhervorming in Perspektief”

Die voorsitter het mev. Crosby aan die vergadering voorgestel.

Mev. Crosby het haar dank teenoor die Kongres uitgespreek dat hulle haar genooi het om die afgevaardigdes toe te spreek. Sy het gesê internasionale ervaring met grondhervorming, is nog in sy kinderskoene. Sommige lande was suksesvol, maar in Suid-Afrika het ons geen keuse nie, dit moet gedoen word en dit moet goed gedoen word. Suid-Afrikaners moet positief bly sonder om die foute van die verlede te herhaal. Daar moet kennis geneem word van wat op internasionale en ander gebiede gebeur, byvoorbeeld klimaatsverandering, ens.

Sy het gesê die Suid-Afrikaanse Grondwet is die grondslag van ons demokrasie en dat ons nie ligtelik daaraan moet peuter nie.

Sy het gesê die eiendomsklousule poog om die regte van bestaande grondeienaars en mense wat nooit voorheen toegang tot grond gehad het nie, te balanseer. Artikel 25 verbied die arbitrêre ontneming van eiendomsregte. Dit maak voorsiening vir onteiening in openbare belang, maar vereis betaling van juiste en billike vergoeding. Ten opsigte van markwaarde, gee Agri SA toe dat dit die vertrekpunt moet wees by die berekening van vergoeding.

Die onteieningsklousule vereis ‘n balansering van die regte van individue met die belange van die publiek.

Sy het gesê dat eiendomsreg erken word deur al die belangrike internasionale menseregte instumente. Die Voedsel en Landbou Organisasie se studie erken dat verpligte verwerwing moontlike voordele vir die samelewing mag inhou, maar dit verleen ook erkenning aan die feit dat dit ontwrigtend is vir die mense wie se grond bekom word omdat dit mense uit hulle huise sit en boere van hulle grond afsit. Dit kan inmeng met lewensonderhoud en netwerke en maatskaplike verhoudinge vernietig.

Daar is bevind dat:-

· Die mag van verpligte verwerwing misbruik kan word
· Die meeste lande versterk die konstitusionele basis vir verpligte verwerwing met uitgebreide wette en regulasies
· Stappe vir verpligte verwerwing moet insluit:-

o Beplanning
o Publisiteit
o Waardering en voorlegging van eise
o Betaling van vergoeding
o Besitname
o Appelle

· Vergoeding is die kern van verpligte verwerwing.

Die billikheidsbeginsel is uiters belangrik by die bepaling van vergoeding. Die betrokke eienaars en bewoners moet nie verryk of verarm word as gevolg van verpligte verwerwing nie.

Sy het gesê hierdie beginsels moet toegepas word met enige nuwe beleid en wetgewing ten opsigte van grond in Suid-Afrika.

Dit wil voorkom of die Groenskrif oor Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming sal poog om die resolusies van die Grondberaad en die ANC-beleidsvoorstelle wat by Polokwane aanvaar is, geïmplementeer te kry. Dit sluit in die eerste reg tot weiering, grondplafonne, uitgebreide regte vir plaasbewoners en ‘n nuwe onteieningswet.

Hierdie praktyke moet in oënskou geneem word wanneer dit vroeg volgende jaar ingestel word met die nuwe onteienswetgewing, waar tussen die goeie en die slegte onderskei sal kan word. Die Grondbestuurskommissie sal getaak word om ‘n grondoudit te doen. Een van die doelstellings van die Groenskrif sal wees om buitelandse eienaarskap te reguleer.

Sy het gesê voordat radikale nuwe wette en beleid ingestel word, moet ons aandag skenk aan die eintlike redes vir die stadige vordering met grondhervorming, te wete begrotingstekorte, die gebrek aan bekwame en ervare amptenare om beleid te implementeer, burokratiese rompslomp en korrupsie. Daar moet gefokus word op korrekte implementering.

Sy het afgesluit deur te sê dat ons moet kyk na internasionale ondervinding en ervaring in die verlede en daarop moet probeer verbeter. Probeer om innoverend te wees om te kyk hoe dit kan werk. Plaaslike forums moet verantwoordelikheid in hulle eie gebiede aanvaar en oplossings bewerkstellig. Sy stel agri-dorpies voor waar plaaswerkers kan woon, waar hulle die titelhouers is maar steeds in die gebied kan werk. Om tot ‘n oplossing te kom, moet alle terreine verken word.

Die voorsitter het mev. Crosby bedank vir haar toespraak.

19. Oop Besprekings
Die voorsitter het die vloer vir debat oopgestel.

a. Mnr. Brian Aitken, Bosbou SA, het gesê alle boere dink positief oor grondhervorming, maar die regering het die bepalings van die handves verbreek en kommunikasie is klaarblyklik gestaak. Hy het voorgestel dat die SA President gesprek voer met boere – dit is hulle wat grondhervorming kan laat slaag.
b. Mnr. Cas Joubert, Ingogo Flentershoek Boerevereniging het gevra of daar finaliteit bereik is oor minerale regte tydens onteiening.
c. Mev. Suzanne Fortmann, Estcourt Boerevereniging, het gevra oor terugbetaling relatief is tot wat dit voor of na vergoeding was.
d. Mnr. Hennie de Villiers, Heatonville Boerevereniging, het gevra hoe die regering beoog om die planne te implementeer.
e. Mnr. Carl Simpson, Wasbank Boerevereniging, het gevra watter sektor het in Brasilië vooruitgegaan: die kommersiële of die bestaansektor.
f. Mnr. Ian King, Ladysmith Boerevereniging, het gevra hoe moet onwettige immigrante hanteer word.
g. Mnr. Ian King, Ladysmith Boerevereniging, het gevra hoeveel tyd en kapitaal is na toekomstige waterhulpbronne gekanaliseer.

a. Prof. Karaan het mnr. Aitken vir sy stelling bedank en gesê dat ons moet werk maak met die regering se onvermoë.
b. Mev. Crosby het gesê die hofsaak in verband met minerale regte word deur Agri SA hanteer en die uitslag word binnekort verwag. Mnr. Hans van der Merwe, Uitvoerende Direkteur, Agri SA het gesê die hofsaak, wat deur Agri SA aanhangig gemaak is, sal in Oktober 2010 voor die hof kom.
c. Mev. Crosby het gesê vergoeding moet op albei partye van toepassing wees – niemand moet verryk of verarm word nie.
d. Prof. Karaan het gesê dat die implementering van selfs die planne wat die beste uitgelê is, soms kan misluk. Hy het gesê dat die samelewing en regering die planne saam moet implementeer. Die Kommissie is geformuleer om die plan te moniteer, toesig te hou oor regeringsaksies en om te adviseer.
e. Prof. Karaan het gesê die kommersiële sektor.
f. Prof. Karaan het gesê onwettige immigrante vorm ‘n groot deel van arbeid, wat dikwels beter en goedkoper is. Hy het gesê dit behoort ‘n oop samelewing te wees waar die beste vermoëns benut kan word.
g. Prof. Karaan het gesê dat Suid-Afrika ‘n ernstige watertekortprobleem ondervind en die moeilike vraag is of nuwe skemas ontwikkel moet word of nie. Hy het gesê verskeie spesialiste skenk aandag aan die probleem met die hoop dat ‘n oplossing gevind sal word.

Die voorsitter het prof. Karaan en mev. Crosby bedank dat hulle die Kongres kom toespreek het.

20. Middagete

21. Aankondiging van Ampsdraers
Die Raad van Direkteure het tydens middagete vergader om die president en twee vise-presidente te verkies.

Hulle is:
President : Mnr.Robin Barnsley
Vise-president: Mnr. Phenias Gumede
Vise-president: Mnr. Rod Freese

22. Toespraak deur mnr. Ulrich Joubert, Ekonomiese Analis
“Posisioneer onsself vir ‘n positiewe toekoms”

Die voorsitter het mnr. Ulrich Joubert aan die Kongres voorgestel.

Mnr. Joubert het gesê dat die Suid-Afrikaanse ekonomie en landbou deur internasionale gebeure beïnvloed word.

Hy het gesê in die Verenigde State is die dollar sterk, maar werkloosheidsvlakke het gestyg en verbruikers het hulle bestedingskrag verloor. Die negatiewe neiging in industriële produksie in die VS-/VK-ekonomie in 2009 het effens herstel, maar dit het ‘n negatiewe bestedingskrag vir die verbruiker beteken. Hy het voorspel dat stadige herstel sal plaasvind met wêreldwye lae rentekoerse wat ‘n geruime tyd sal duur.

Hy het boere aangemoedig om betrokke te raak by plaaslike owerhede aangesien groei beperk word deur ‘n gebrek aan vaardighede, opleiding en opvoeding. Hy het voorspel dat rentekoerse laag sal bly en dat die Rand vir ‘n rukkie sterk sal bly.

Verlede jaar was ‘n swak jaar as gevolg van die resessie. Vanjaar behoort dit beter te gaan, maar mense moet in alle opsigte kostebeheer toepas, want mededinging sal sterk wees.

Hy het gesê daar is geleenthede, maar mens moet bedag wees op swak geleenthede en jouself vergewis van die goeies.

Die voorsitter het mnr. Joubert bedank vir sy toespraak.

23. Oop Bespreking
Die voorsitter het die vloer oopgestel vir debat.

a. Mnr. Rob Stock, Pongola Rietkwekersvereniging, het gevra of ‘n swakker of sterker Rand beter is vir die landbou. Mnr. Joubert het geantwoord dat mens die impak van invoere moet dophou.
b. Mnr. Dave McFie, Estcourt Boerevereniging, het gevra hoe ons inflasiekoerse bepaal word. Mnr. Joubert het gesê dat ons ons eie inflasiekoerse moet bereken, maar neem die verantwoordelikheid van kostestruktuur in ag.
c. Mnr. Cas Joubert, Ingogo Flentershoek Boerevereniging, het gevra of mnr. Joubert van mening is dat banke meer toeganklik sal raak. Mnr. Joubert het gesê dat kriteria verlaag word, maar dat hulle baie versigtig is vir risiko’s.

Die voorsitter het mnr. Joubert bedank vir sy rede.

24. Resolusie
Die voorsitter het gesê die Raad het aan hom ‘n mandaat verleen om die volgende resolusie ter tafel te lê:-

“Die rol van die landbou in die ekonomiese herstel van Suid-Afrika

Die Kongres sal die uitdagings en geleenthede wat die landbou in die huidige ekonomiese klimaat in die gesig staar, ondersoek, asook die rol wat die sektor sal speel in die fasilitering van volhoubare ekonomiese groei.

Kwanalu resolusie kongres 2010

Toegewy aan en begerig tot ‘n positiewe volhoubare en uitvoerbare toekoms vir ons sektor, provinsie en nasie. Kwanalu en sy lede erken die Verklaring van Regte en Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika as die grondslag van hulle regte en verpligtinge.

In erkenning van hierdie grondbeginsels, onderneem ons en verbind ons daartoe om:

1. Te fokus op ons kernbesigheid van die produksie van voedsel en vesel, wat voldoen aan die standaarde soos van ons as produsente verwag en daarom
2. Bydra tot voedselsekuriteit vir ons nasie
3. Die winsgewendheid van die landbou beskerm en bevorder
4. Die aanvaarding en implementering van gesonde waardes in die wyse waarop ons besigheid doen
5. Deelneem aan volhoubare grondhervorming en landelike ontwikkeling
6. Bydra tot ekonomiese ontwikkeling en werkskepping
7. Deel hê in strategiese verhoudings en vennootskappe
8. Steun en deelname aan navorsing en ontwikkeling in die sektor
9. ‘n Sterk organisatoriese en institusionele struktuur vir Kwanalu en die sektor te handhaaf

In reaksie, verwag ons en doen ons ‘n beroep op die regering om:

1. Die letter van die wet te onderhou, toe te pas en te gehoorsaam
2. Korrupsie uit te roei
3. Beginsels van gesonde korporatiewe regering op alle regeringsvlakke te implementeer
4. Die transformasie en maatskaplike uitdagings in die sektor in die konteks van die kernfunksie van produksie en voedselsekuriteit te erken
5. ‘n Politieke, ekonomiese en produksie-vriendelike omgewing daar te stel, waar landbou kan floreer, waar vrye mark beginsels ook gerespekteer word
6. Die sektor voorsien van relevante en ondersteunende dienste, insluitend maar nie beperk tot ekonomiese en sektor statistiek, navorsing en ontwikkeling, veeartsenykundige dienste, voorligting, ens.
7. Ophou om die sektor te verpolitiseer, oningeligte beleidsverklarings vry te stel en inkonsekwente of verdraaide implementeringsprogramme

Mnr. Rod Freese, vise-president, Kwanalu, het gesê as ‘n Kwanalu-lid en boer, word hy gekonfronteer met al die uitdagings waarvan melding gemaak is. Hy is ‘n toegewyde Suid-Afrikaner en is toegewyd aan sy professie en sy gesin.

So graag as wat hy hom egter tot die toekoms wil verbind, kan daar nie van hom verwag word om dit te doen in ‘n omgewing van onsekerheid wat deur die gebrekkige implementering van beleid en dubbelsinnige beleidsboodskappe teweeg gebring word nie.

Hy glo dat ons moet verenig in die ontleding van die probleme wat ons in die gesig staar en deur die formulering van beleid en aksieplanne, die algemene welvaart van almal in die landbousektor moet verbeter deur die bou van ekonomiese geleentheid, maatskaplike vordering en opvoedkundige verbetering.

Hy erken die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en die regte verleen en begeleiersverpligtinge.

Hy het gesê dat Kwanalu altyd positief en pragmaties is in sy benadering, altyd positief en uitdagend, altyd trots Suid-Afrikaans. Hy het voorgestel dat die resolusie aanvaar word.

Mnr. Phenias Gumede, vise-president van Kwanalu, het gesê as lid van Kwanalu en ‘n boer, staar hy dieselfde uitdagings in die gesig. Hy is ook verbind tot ‘n positiewe, volhoubare en uitvoerbare toekoms vir die sektor, provinsie en nasie en daarom sekondeer hy die resolusie.

Die voorsitter het kommentaar van die vloer af gevra en mnr. Rob Stock het gevra of Kwanalu nie as sambreel gebruik kan word om vereniging te bewerkstellig nie. Die voorsitter het gesê Kwanalu is die saambindende liggaam in die provinsie, maar die resolusie moet op nasionale vlak hanteer word. Daar is voorgestel dat die strewe na eenheid as ‘n 10de punt bygevoeg kan word.

Die resolusie is eenparig AANVAAR.

25. Afsluiting
Mnr. Barnsley het weer sy dank uitgespreek teenoor die borge, die afgevaardigdes vir hulle insette, die personeel en die media en pers vir hulle bywoning. Hy het afgevaardigdes versoek om terug te gaan na hulle distrikte en positiewe uitsprake oor die probleme te maak. Leierskap is ‘n uitdaging en hy het hulle versoek om die beste leiers uit te soek. Hy het hulle aangemoedig om op te staan teen probleme..

Die voorsitter het die vergadering gesluit verklaar.

Kwanalu
Posbus 100123
3209 SCOTTSVILLE
Tel: 033-342 9393
Faks: 033-345 7141
e-pos: director@kwanalu.co.za

17 September 2010

NA-KONGRES NOTA

Die verkiesing van die Bestuurskomitee het by die Raadsvergadering na die Kongres plaasgevind. Die volgende persone is saam met die president en vise-presidente verkies om op Manco te dien:-

Mnr. Christopher Hadebe
Mnr. Brian Aitken
Mev. Queen Ngwenya
Mnr. Scot Scott
Mnr. Ken Robinson

Search Website

Phone: +27 33 3429393
Fax: +27 33 3457141
Kwazulu-Natal Agricultural Union Blog Kwanalu Blog Kwanalu Blog
Kwazulu-Natal Agricultural Union Blog Update Us Kwanalu Blog
Help keep us updated about activities and issues in your area. Click here