‘Meeste grond sál in swart besit wees’
Dit sal nie gebeur dat die meeste landbougrond in die hande van wit boere sal bly nie. Landbougrond sal herverdeel word totdat dit die demografie van die land weerspieël.
Dít het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, aan die media by die Parlement gesê. Dit is die eerste keer dat die Regering ’n duidelike boodskap aan wit boere stuur dat hy nie by sy voorgestelde syfer van 30% grond teen 2014 aan swart boere sal stop nie. Sover is ongeveer slegs 7% landbougrond oorgedra.
Landbouweekblad het Nkwinti gevra of die Regering wegbeweeg het van sy 30% teiken vir landbougrond soos wat mnr. Pieter Groenewald, LP van die Vryheidsfront Plus, vroeër in die Nasionale Vergadering gesê het. Nkwinti het gesê die 30% grondoordrag van wit grond na swart mense was die heeltyd misverstaan. “Mnr. Groenewald het gedink dat wanneer 30% wit grond teen 2014 herverdeel is, sal dit die einde wees en wit bevoorregting sal behoue bly.
“Dit is wat hy gedink het en dis presies dit wat ek opgetel het toe ek ingekom (minister geword het) het.” Om dié rede het Nkwinti besluit om nie die 30%-roete te volg nie, maar om die herverdeling van grond na te volg totdat die demografie van die land weerspieël is.
Hy het ook dié denke by wit boere opgetel wanneer hy met hulle gesprekke gevoer het. “Dis waarom hulle geraas maak dat die 30% nog nie bereik is nie… en dat die Regering nie die vermoë het om dit te doen nie, want hulle het gedink 30% sal die einde van die pad wees en dat hulle die res van die grond in hulle besit sal bly. Dit sal nie gebeur nie.”
Hy het ook verduidelik dat die grondplafonne vir die verskillende plaasgroottes na gelang van die betrokke kommoditeite en die streke sal wees.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, het die voorgestelde grondplafonne as ’n terugwaartse stap na ’n uitgediende sosialistiese en sentrale beplanningsbenadering omskryf. Hy meen dit hou vir die land onbekostigbare is en rampspoedige gevolge in vir die instandhouding van ’n lewensvatbare en mededingende kommersiële landboubedryf.
“Dit is verder teleurstellend dat die minister ook weereens teikens wat voorheen in dié verband gestel is, binne ’n kort tydsbestek wysig.” Möller het gesê dat hierdie aankondiging kom terwyl ’n ministeriële raadplegingsproses nog oor aangeleenthede soos beperkings op grondbesit en alternatiewe modelle vir bemagtiging onderweg is.