fbpx

Kwanalu

KwaZulu-Natalse boere reik uit na Oos-Kaap

Deur Michelle van der Spuy

10 Maart 2020

Landbou

Ruimhartige boere van die boerevereniging Weenen in KwaZulu-Natal het uitgereik na hul medeboere op Steytlerville om droogtehulp aan te bied. Hulle het 1 200 lusernbale aan boere in dié droogtegeteisterde gebied geskenk.

Mnr. Shane Reynolds, ’n boer van Weenen en voorsitter van die boerevereniging Weenen, sê die skenking is vanweë goeie reën wat oor Weenen geval het. Hulle het op die KwaZulu-Natalse landbouvereniging (Kwanalu) navraag gedoen om uit te vind of daar gebiede is wat droogtehulp nodig het. Só is boere van Steytlerville as begunstigdes geïdentifiseer.

Die vervoer van die lusern is teen ’n afslagtarief deur Winberg Transport voorsien en deur die Agri SA se droogterampfonds gefinansier.

Mnr. Peter Knoesen, voorsitter van die landbouvereniging Steytlerville, het gesê die boere van dié distrik is baie dankbaar vir die skenking.

“Steytlerville en omliggende gebiede het die afgelope paar weke welkome reën gehad, maar daar lê nog ‘n lang pad vir ons voor. Skenkings maak dit vir boere moontlik om hul kop hoog te hou, optimisties te bly en die situasie nog ’n bietjie langer te verduur.”

Hy sê as deurwinterde boere, het Steytlerville se boere al droogtes ervaar en weet hulle ook wanneer om ’n droë seisoen te verwag, maar die huidige voortslepende droogte was veral “kwaai, lank en uiters uitmergelend”. “Sonder hulp van ons medeboere sou ons uithouvermoë lankal op gewees het.”

Me. Sandy la Marque, hoofbeampte van Kwanalu, het almal wat by die uitreik betrokke was bedank.

Vir nog inligting oor landbou in KwaZulu-Natal of Kwanalu, besoek hul webwerf www.kwanalu.co.za.