fbpx

Kwanalu

Hulp van oral vir desperate boere

26 Desember 2015 23:15

Die Droogterampfonds, wat deur Agri SA bestuur word en bygestaan word deur landboumaatskappye soos Senwes, het tot dusver R1,5 miljoen en sowat 44 ton veevoer ingesamel waarmee behoeftige boere bygestaan sal word.

Media24 is ook een van die fonds se korporatiewe ondersteuners. 

Johan Grobler van Senwes sê dit is bemoedigend om te sien hoe bydraes, wat wissel van R30 tot R20 000, instroom.

“Baie van die geld word aangewend vir humanitêre hulp. Ons help om letterlik kos op die tafels te sit van mense wat nou swaarkry weens die droogte,” vertel Grobler.

Hy sê die vensterperiode vir reën om te val sodat boere gewasse soos mielies kan aanplant, is nou feitlik verby.

In die mieliestreke wat die kwesbaarste is vir weersomstandighede gaan daar waarskynlik slegs sowat 15% van dít wat normaalweg geplant word, vanjaar in die grond ingaan.

Dié skoksyfer geld vir feitlik die hele mieliestreek aan die westelike kant van die N3-snelweg tot in die ou Wes-Transvaal, verduidelik Grobler.

Hy meen Suid-Afrika gaan waarskynlik volgende jaar net sewe miljoen ton mielies oes. Dit is vier miljoen ton (sowat 36%) minder as die 11 miljoen ton wat die land normaalweg oes.

Nico Gerber, ’n boer van George in die Suid-Kaap en medestigter van die hulpgroep Boere in Nood, sê sy organisasie het al sowat R420 000 ingesamel.

Boere in Nood fokus hoofsaaklik daarop om voer by behoeftige boere te laat aflewer en die groep se Facebookblad het reeds meer as 11 000 lede.

“Ons het al voer laat aflaai in die Boesmanland, in die Kalahari, en van Noordwes tot in die Vrystaat en dele van KwaZulu-Natal. Ons probeer so ver en so wyd as moontlik help,” sê Gerber.

“Ons gaan goed aan, maar een probleem is dat ons nie vinnig genoeg by die boere kan uitkom nie. Ons sal dit baie waardeer as vervoermaatskappye ons daarmee kan bystaan,” sê Gerber.

Netwerk 24