Facebook Pixel

Kwanalu

Hof stuit staat se boelietaktiek oor grond – Agri SA

Netwerk 24

Sarel van der Walt

8 Maart 2019

‘n Belangwekkende uitspraak van die grondeisehof stuit die boelie-taktiek van die staat. Dit bevestig nie net die oppergesag van die reg nie, maar ook boere se reg tot regverdige en billike vergoeding vir hul grond, sê Annelize Crosby, Agri SA se beleidshoof oor grond.

Regter A.J. Canca, wat uitspraak gelewer het in die saak van die Emakhasaneni-gemeenskap in die Melmoth-distrik in KwaZulu-Natal, het beslis dat die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming – én die waardeerder-generaal – nie die jurisdiksie van die howe in vergoedingsake mag verontagsaam nie.

Crosby sê Agri SA is verheug oor dié uitspraak.

“Die uitspraak stuit die boelie-taktiek wat gebruik is om grondeienaars te oorreed om slegs die helfte van die ooreengekome bedrag (vir hul grond) te aanvaar. Dit bevraagteken ook die toepassing van die Wet op Eiendomswaardasies,” sê Crosby.

“Die gevolge van hierdie uitspraak is indringend omdat dit die boelie-taktiek wat voorheen gebruik is, stopsit.

“Die oppergesag van die reg en boere se reg tot regverdige en billike vergoeding is hiermee bekragtig,” sê sy.

Volgens Crosby het dié saak ’n lang aanloop en verskeie plase in die Melmoth-distrik is hierby betrokke.

Die staat en die waardeerders, wat grondeienaars in dié saak verteenwoordig, het voorheen ooreengekom op wat hulle beskou as regverdige en billike vergoeding (R760 miljoen).

“Die oppergesag van die reg en boere se reg tot regverdige en billike vergoeding is hiermee bekragtig”.

Die waardeer-generaal het in ‘n latere stadium betrokke geraak en die grondeienaars net 50% aangebied van die bedrag waarop ooreengekom is.

“Die staat se posisie wat die grondeienaars verplig is om afstand te doen van hul eiendomme teen die bedrae wat deur die waardeerder-generaal bepaal is”.

“Die minster van landelike ontwikkeling en grondhervorming (Maite NkoanaMashabane) het aangevoer dat sy verbind is tot die waardeerder-generaal se aanbod en het geweier om daarvan af te sien.”

Die staat se verweer was ook dat die hof geen jurisdiksie oor vergoedingsake het nie.

Canca het egter bevind dat die Wet op Eiendomswaardasies nie die jurisdiksie van die howe in vergoedingsake kan uitsluit nie.

Hy het ook bevind dat die wet die minister nie keer om ’n groter vergoedingsbedrag as wat die waardeerder-generaal bepaal het toe te staan nie.

Crosby sê die presedent wat met dié saak geskep is, is dat die oorsig deur die howe in vergoedingsake gehandhaaf word, terwyl die rol van die waardeerder-generaal in die bepaling van ’n vergoedingsbedrag waarop grondeienaars geregtig is, beperk word.

“Dit is ’n stap in die regte rigting vir regverdige en billike vergoeding.”

Prof. Elmien du Plessis, ’n regskenner aan die Noordwes-Universiteit, sê die uitspraak is belangrik omdat dit die rol van die waardeerder-generaal in die bepaling van vergoeding verduidelik en duidelik maak.

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, sê dié organisasie verwelkom ook die uitspraak.

“Dit is in wese ’n bevestiging van hoe ons die situasie in elk geval vertolk het. Dit bring aansienlike beleids- en regsekerheid in die proses vir grondeienaars en – finansierders – iets wat tans broodnodig in die landboubedryf is.”

Dr. Marika van der Walt, ‘n regskenner, sê mense se eiendomsreg word beskerm omdat hulle bydrae tot die ekonomie in belang van die samelewing as geheel is.

Die oomblik wanneer eiendomsreg deur onbillike vergoeding aangetas word, word die grondslag van die ekonomie ondergrawe.

“Dit is hoekom die howe van ouds af al die reg het om toesig te hou oor sake waar eiendomsreg ter sprake is,” sê Van der Walt.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê dié organisasie was nog altyd van mening dat die instelling van ’n waardeerder-generaal deel is van die ANC se proses om boere se grond te gryp.

“Daar ís ’n waardeerder-stelsel in die land wat waardeerders en waardasies reguleer en standaarde stel. Ons was nog altyd van mening dat die daarstelling van ’n waardeerder-generaal ’n poging van die ANC was om die proses te omseil,” sê Van Zyl.