Congress Report 2011 – Afrikaans
VERSLAG VAN KWANALU SE KONGRES
WAT GEHOU IS OP DONDERDAG 15 SEPTEMBER 2011
BY DIE ROYAL SKOU, PIETERMARITZBURG
KONGRESTEMA
“ ‘n Tyd om die regte ding om die regte rede vir die regte resultaat te doen”
1. Registrasie
2. Welkom
Die voorsitter, mnr. Robin Barnsley, het die vergadering tot orde geroep en al die boere en gaste verwelkom, insluitend lewenslange ere-lede, vise- en voormalige presidente, die Deense konsulaat, studente van Weston, Zakhe and Owen Sithole Kolleges, beamptes van die Departemente en Agri SA.
Verskonings is in die bywoningsregister aangeteken.
3. Skriflesing en gebed
Mnr. Jannie Boshoff het die Kongres geopen deur voor te lees uit Psalm 120 en te bid. Hy het gesê alle boere moet op God vertrou.
Die voorsitter het mnr. Boshoff vir sy woorde bedank.
4. Mosies
Die voorsitter het die Kongres versoek om te staan vir ‘n minuut stilte ter herinnering aan diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het, asook hulle wat slagoffers van misdaad was sedert die 2010-Kongres.
5. Konstituering van Kongres
Die HUB, mev. Sandy La Marque, het bevestig dat daar behoorlik kennis van die Kongres gegee is. Met die verteenwoordigende afgevaardigdes teenwoordig, is ‘n kworum gevorm en die Kongres behoorlik gekonstitueer. Aangesien nominasies ontvang is vir die beskikbare setels vir kommoditeite, agri-besigheid en FWI, sal sodanige genomineerdes in die Raad van Direkteure dien en geen stemming sal gehou word nie.
6. Aankondiging
Die HUB het bostaande tema van die Kongres beklemtoon en het almal aangemoedig om aan die debatte deel te neem en aan hulle keisafdelings terug te rapporteer.
7. Presidentsrede
Die vise-president, mnr. Phenias Gumede, het die voorsitterstoel ingeneem terwyl die voorsitter sy presidentsrede aan die Kongres voorgelê het. ‘n Afskrif daarby word hierby aangeheg.
Hy het gesê ons leef in uitdagende tye, waarvan sommige nie altyd goed gehanteer word nie. Van die uitdagings is:
· ‘n Onderbevoegde arbeidsmag;
· Misdaad en diefstal;
· Korrupsie;
· Probleme met toegang tot onder andere, geld;
· ‘n Ondoeltreffende regeringsburokrasie.
Mnr. Barnsley het gesê Kwanalu was en is steeds verbind tot ‘n produktiewe toekoms en sal voortgaan om hom te skaar aan die kant van progressief-denkende organisasies wat hulle beywer vir die vooruitgang van die sektor, ekonomie en gemeenskap.
Misdaad het steeds ‘n groot impak op die sektor, maar gedurende die afgelope twaalf maande was daar genadiglik ‘n afname in geweld teen boere en inwoners.
Hy is dankbaar vir die positiewe en konstruktiewe verhouding wat met die media gehandhaaf word.
Hy het gesê die sukses van die gemeenskap en nasie lê in die aanvaarding van beginselvaste leiersposisies ten opsigte van sake van die dag en met ‘n langtermyn strategiese toekomsblik.
Wat nodig is, is leierskap – sterk, ferm, regverdig, gebalanseerd en beginselvas.
Die voorsitter het gesê hy het reeds aangedui dat hy die mantel van leierskap aan iemand anders wil oorhandig. Hy het lede bedank vir die geleentheid om hulle belange te dien en hulle aangemoedig om hulle volle ondersteuning aan die nuwe leier te gee.
Mnr. Gumede het die voorsitter vir sy konstruktiewe toespraak bedank en die hoop uitgespreek dat die voorsitter altyd binne bereik van Kwanalu sal wees. Hy het voorgestel dat die presidentsrede aanvaar word.
8. Strategiese plan 2010/2011
Die HUB het gesê afgesien van ander sake, het Kwanalu aandag geskenk aan die volgende sleutelgebiede:-
· Transformasie en Landelike Ontwikkeling
Sy het gemeld dat grondhervorming steeds ‘n uitdaging is. Die regering het nie daarin geslaag om restitusie, herverdeling en die verandering van besitreg te implementeer nie weens voortdurende wan-administrasie, nepotisme, korrupsie, ‘n gebrek aan deursigtigheid en minagting van die letter van die wet.
Die Sekuriteitswetsontwerp op Grondbesit is op 24 Desember 2010 gepubliseer en voorleggings en kommentaar is aangevra. Daar is voorgestel dat die huidige grondbesit-stelsel hersien moet word om billike toegang tot grond en volhoubare grondbenutting te verkry.
Kwanalu staan steeds by sy aanvaarde beleid dat
– Die beginsel van ‘n vrye-markstelsel toegelaat moet word; en
– daar respek vir besitreg moet wees.
Die nuwe Wet op die Sekuriteit van Grondbesit (LTSB) is ‘n poging om die voorwaardes van die Wet op Huurarbeid en dié van die Wet op die Uitbreiding van Sekuriteit van Grondbesit saam te voeg. Die doelstellings van die LTSB is om:
– Relatiewe regte van plaaswerkers, plaasbewoners en grondeienaars te beskerm;
– Die besitreg van plaasbewoners te bevorder; en
– voedselsekuriteit deur volgehoue produksiedissiplines te verseker.
Kwanalu het ‘n beduidende bydrae gemaak tot die voorlegging wat deur Agri SA gemaak is en sal steeds op die voorpunt bly om te verseker dat die standpunte van lede en affiliate in die volgehoue debat oor hierdie belangrike saak verteenwoordig word.
· Groenskrif oor Grondhervorming
Die HUB het gerapporteer dat verlede jaar insae verkry is in ‘n gelekte weergawe van die Groenskrif, maar die Groenskrif is toe op 26 Augustus 2011 amptelik vrygestel. Sy het aan die voorsitter aangedui dat sy vir akkuraatheidsdoeleindes, die mees onlangse inligting in haar verslag sal insluit.
Die beleidsvoorstel vir landboutransformasie in die Groenskrif is aangedui as:
– “’n Snelle en fundamentele verandering in die verhoudinge (stelsels en patrone van eienaarskap en beheer) van grond, lewende hawe, saaiery en gemeenskap.”
– Onderliggende beginsels:
– Ontrassing van die landelike ekonomie vir gedeelde en volhoubare groei
– Demokratiese en billike grondtoewysing en benutting ongeag van geslag, ras en klas, en
– Streng produksiedissipline vir voedselsekuriteit
• Visie
– Viervlakstelsel van grondbesit
• Verseker dat almal (veral landelike swartes), redelike toegang tot grond kry met beskermde regte
– Duidelik afgebakende eiendomsregte
• Gesteun deur regverdige, billike en verantwoordbare grondadministrasie en
• Doeltreffende regs- en regeringstelsel
– Veilige vorms van langtermyn besitreg vir inwonende nie-burgers wat betrokke is by toepaslike beleggings
• Bevorder voedselsoewereniteit en lewensbestaansekuriteit en
• Verbeterde agro-industriële ontwikkeling
– Doeltreffende grondbenutting beplannings- en regulatoriese stelsels
• Bevorder optimale grondbenutting in alle sektore en gebiede,
• Doeltreffend ge-administreerde landelike en stedelike grond en
• Volhoubare landelike produksiestelsels
Kwanalu is weereens aangewys op beginselstandpunte wat by die vorige Kwanalu-Kongres aanvaar is:
– Vryemark beginsel (geen mark-inmenging)
– Daar moet weer gekyk word na internasionale modelle wat goed gewerk het
– SA Grondwet is steeds die fundamentele vertrekpunt vir alles
– Wetlike raamwerk/menings moet verky word
– Grond-databasis moet uitgevoer word
– Formuleer ‘n Landelike Ontwikkelingsbeleid
– Wet op Grondbesit – neem kennis van regspresedent en wetlike lesse wat geleer is
– Kyk na ekonomiese, beleggings, GDP-impak
– Kommunikasie en die verhouding tussen rolspelers moet te alle tye benut word om die geringste van Kwanalu en sy lede te verteenwoordig
· Grond-oudit
By die Nasionale Grondberaad wat in 2005 gehou is, is ‘n oproep gedoen vir ‘n grond-oudit. Na baie jare waarin geen vordering deur die Regering gemaak is nie, het Kwanalu se Raad ‘n mandaat gegee dat Kwanalu met ‘n oudit moet begin en wel om die volgende redes:
– Daar was geen enkele stukkie inligting oor die patrone van eienaarskap van landbougrond nie;
– Die doelwit van 30%-oordrag van landbougrond in wit besit, soos uiteengesit deur die Regering, het klaarblyklik nie gerealiseer nie;
– Die vermoë om aan te dui hoeveel grond in swart besit was;
– Verskeie ander strategieë/beleidsrigtings ten opsigte van grondtransformasie het bestaan;
– Die onbekende impak op die stabiliteit van die landbousektor en implikasies vir voedselsekuriteit in Suid-Afrika.
Die projek is van stapel gestuur en gaan steeds voort en verdere toewyding van almal word vereis.
· Landelike Veiligheid en Sekuriteit
Mev. La Marque het gemeld dat geen plaasmoorde in KZN aangemeld is gedurende die laaste ses maande van die finansiële jaar nie. Die Sekuriteitslessenaar funksioneer op skenkergeld.
· Natuurlike Hulpbronne
Baie boere word steeds aan bande gelê deur swak infrastruktuur. Dit sluit in die swak toestand van paaie, swak basiese dienslewering, swak kommunikasiedienste en verbindings deur Telkom en selfoondiensverskaffers, wat ‘n uitwerking het op boerderybesighede.
· Rampbestuur
Sy het gemeld dat Kwazulu-Natal deur die loop van die afgelope jaar, te make gehad het met droogte, oorstromings en Bek-en-Klouseer (BKS). Tydens die BKS-ramp, is uiters min kommunikasie en leiding deur die Regering daargestel. Daar is nog baie onbeantwoorde vrae rakende die BKS-uitbraak. Soos altyd, het Kwanalu ‘n sleutelrol in die kommunikasie gespeel en was dit ‘n sentrale punt vir die verspreiding en ontvangs van inligting.
· Arbeids- en Maatskaplike Belegging
Op 17 Desember 2010 is die volgende arbeids-wysigingswetsontwerpe vrygestel vir kommentaar:
– Wysigingswetsontwerp op Arbeidsverhoudinge
– Wysigingswetsontwerp op Indiensnemingsgelykheid
– Wysigingswetsontwerp op Basiese Diensvoorwaardes
– Die Wet op Indiensneming
Daar is gevoel dat, indien hierdie wette in hulle huidige vorm deurgevoer is, dit ‘n beduidende impak op die indiensnemingsomgewing kon hê. Kwanalu het deelgeneem aan die openbare verhore en het ‘n voorlegging gedoen. Dit bly ‘n belangrike aangeleentheid en aandag sal daaraan geskenk word.
Nadat die openbare verhore in KZN gehou is, het boereverenigings tot die stryd toegetree en konstruktiewe besprekings met die Departement gehad. Kwanalu het nog insette in hierdie verband gelewer.
Kwanalu het steeds te make met verskeie sake en probleme wat deur lede ondervind word en handhaaf ‘n goeie werksverhouding met die Departement. Sy het beklemtoon dat lede te alle tye toegeeflik moet wees.
· Kommunikasie en Beeldbou
Mev. La Marque het daarop gewys dat ‘n paar effektiewe metodes gebruik word om met lede te kommunikeer, t.w. Kwanalu se webblad, e-pos, SMS, faks en pos. Kwanalu se uitvoerende komitee en HUB besoek gereeld vergaderings van boere en jaarliks word besoek regdeur die provinsie gebring om lede op hoogte te bring van die jongste ontwikkelings.
· Kommersiële beleid
Wet op Munisipale Eiendomsbelasting, nr. 6 van 2004 (MPRA)
Kwanalu doen steeds alles in sy vermoë om die onekonomiese toepassing van die MPRA op die landbousektor te temper. Die implementering van die MPRA is veeleisend en hou baie uitdagings in. Kwanalu het ‘n oplossing in die howe gesoek, maar die aansoek is ongelukkig sonder koste van die hand gewys.
Om voort te gaan, beteken regsprosesse wat vir nog ‘n jaar of twee kan voortduur met konserwatief berekende uitgawes wat kan oploop tot ten minste R1 miljoen. Die fokus op munisipale belasting het egter daartoe gelei dat baie munisipaliteite en plaaslike regerings in baie gevalle baie redeliker optree en vordering is gemaak deur konsultasie.
Daar is aanbeveel dat boereverenigings die belastingproses in hulle eie gebiede moet moniteer.
Boereverenigings, kommoditeite en lede het saamgestem dat Kwanalu nie teen die hof se beslissing moet appèlleer nie.
· Die Wet op Minerale en Petroleum Hulpbronontwikkeling (MPRDA van 2002)
Prospektering, Myning en Breking
In die lig van die groot aantal prospekteer- en mynaansoeke wat in KZN ontvang is, is ‘n vergadering van alle lede en belangegroepe gehou om die volgende te bespreek:
– Die regsraamwerk van die MPRDA van 2002
– Houers van minerale regte teenoor die regte van grondeienaars
– ‘n Boer se praktiese benadering tot die hantering van aansoeke om prospekteerregte
– ‘n Boer se praktiese benadering tot die hantering van breking.
Die werkswinkel was propvol inligting en het ‘n groot mate van media-belangstelling ontlok en terselfdertyd die myn-, prospekteer- en brekingsprobleem in KZN aan die lig gebring.
Kwanalu het deelgeneem aan besprekings met ander provinsies en hierdie wydlopende situasie sal hoëvlak-ingryping benodig. Kwanalu beskou dit as ‘n ernstige saak en sal voortgaan met deelname by elke beskikbare geleentheid.
Kwanalu funksioneer steeds doeltreffend en effektief in sy daaglikse bedrywighede.
Sy het haar personeel, die Raad van Direkteure en die uitvoerende komitee bedank vir hulle ondersteuning.
Die voorsitter het die HUB bedank vir haar verslag.
‘n Afskrif van die voorlegging is by hierdie verslag aangeheg.
9. Finansiële State vir die jaar geëindig 30 Junie 2011
Die HUB het verklaar dat die oudit voltooi is en afskrifte van die finansiële state is aan afgevaardigdes gepos. Sy het die ge-ouditeerde finansiële state aan die Kongres voorgelê.
10. Jaarlikse lidmaatskapgeld & begrotingsvoorstel
Die HUB het die Kongres ingelig dat, ingevolge Kwanalu se Grondwet, die Raad van Direkteure die volgende lidmaatskapgeld vir die jaar 2012/2013 vasgestel het. Dit is:
· Kommersiële boere (BTW ingesluit)
– R1 623.50 indien dit teen 30 September 2012 betaal is, of R1 718.00 indien dit daarna betaal word
· Deeltydse/kleinhoewe boere (BTW ingesluit)
– R812.55 indien dit teen 30 September 2012 betaal is, of R859.00 indien dit daarna betaal word
· Voorheen benadeelde boere (BTW ingesluit)
– R220.00
Die begroting vir 2012/2013, wat deur Kwanalu se Raad van Direkteure goedgekeur is, is aan die Kongres voorgelê.
11. Aanvaarding
Die vise-president, mnr. Rod Freese, het die HUB en haar personeel bedank vir alles wat hulle doen. Hy het voorgestel dat die finansiële state, die begroting en die lidmaatskapgeld aanvaar word. Die voorstel is gesekondeer en eenparig AANVAAR.
12. Resolusie : Konstitutisionele Wysigings
Die HUB het die voorgestelde wysigings wat aan die afgevaardigdes gestuur is, aan die Kongres voorgelê.
Mnr. Kenny Robinson het voorgestel dat die resolusie om die Grondwet te wysig, aanvaar word.
Die wysigings is gesekondeer en eenparig AANVAAR.
13. Statistiek SA
Die voorsitter het aan mnr. Ithani Mgwabe van Statistiek SA geleentheid gegee om die vergadering toe te spreek. Mnr. Mgwabe het almal aangemoedig om die Sensus te ondersteun en boere versoek om as ambassadeurs op te tree om toe te sien dat die dokumente voltooi word. Hy het die boere bedank vir hulle hulp ter voltooiing van die landboustatistiek.
Die voorsitter het gevra dat boere aan Statistiek SA toegang tot hulle plase moet verleen ingevolge die “Op-die-plaas-protokol.”.
14. Erkenning aan Borge
Die voorsitter het al die borge bedank vir hulle gulhartige donasies ten opsigte van die uitgawes vir die Kongres.
15. Tee
Die Kongres het verdaag vir tee. Die voorsitter het Nedbank bedank vir hulle borgskap van die sessie.
16. Toeligting: Kwanalu se Beleidstandpunte deur Kwanalu se President, mnr. Robin Barnsley
Die voorsitter het verklaar:- (‘n afskrif van die voorlegging word aan hierdie verslag geheg)
· Kwanalu is ‘n onafhanklike, nie-regerings, vrywillige organisasie van boere en landelike inwoners wat verenig om te bepaal wat hulle probleme is en optrede te formuleer ter oplossing van sodanige probleme,
· Kwanalu streef na die algemene welstand van alle aspekte van boerdery- en landelike bestaan deur ekonomiese geleenthede, maatskaplike bevordering en opvoedkundige verbetering;
· Kwanalu is van mening dat eiendomsregte en persoonlike vryheid gewaarborg word deur die Suid-Afrikaanse Grondwet en dat dit noodsaaklik is vir algemene welsyn en dat sodanige vryhede verdedig behoort te word;
· Kwanalu glo dat ekonomiese vooruitgang ten beste verkry kan word in ‘n vrye mark stelsel.
Kwanalu bepaal sy werksaamhede volgens kernstrategieë.
Die ses sleutelgebiede:-
· Transformasie en Landelike Ontwikkeling
· Landelike Veiligheid en Sekuriteit
· Natuuurlike Hulpbronne
· Arbeids- en Maatskaplike belegging
· Kommersiële Beleid
· Kommunikasie en beeld-bou
is in ooreenstemming met dié van Agri SA en die ander provinsies. Kwanalu het ‘n sterk beleidstandpunt ingeneem en het nie toegegee of afgewyk van die beskerming wat die SA Grondwet bied en die regte wat daarin vervat is nie.
Wat betref Transformasie en Landelike Ontwikkeling, is die grootste aftakelingsfaktor in die boerderysektor in KZN, die regering se versuim om die drie bestaande grondhervormingsprogramme, naamlik restitusie, herverdeling en die hervorming van besitreg te implementeer.
Kwanalu was deurentyd ‘n ondersteuner van grondhervorming en dit sal altyd so bly binne die bepalings van die Grondwet en ingevolge wetgewing in die RSA. Hy het gesê Kwanalu sal nie by besprekings en onderhandelinge betrokke raak wat strydig is met die effekteiwe funksionering van die vrye mark nie. Die skending van regte is nie aanvaarbaar nie.
Met verwysing na Landelike Veiligheid en Sekuriteit het hy gesê kriminele aktiwiteite op plase lei tot aanmerklike finansiële verliese aan die sektor en dit ondermyn terselfdertyd die vertroue, trots en waardigheid van boere en die breër landelike gemeenskap.
– Die oppergesag van die reg vir ‘n regverdige en billike samelewing;
– ‘n Geïntegreerde wetstoepassingstrategie;
– Feitelike bewyse teenoor die gebruik van kwaadwillige verklarings of ondertone;
– Effektiewe wetstoepassing;
– Private inisiatiewe om by te dra tot ‘n veiliger landelike omgewing;
– Die bekamping van veediefstal en geringe diefstal;
– Die uitroei van korrupsie en misdaad;
– Die byhou van statistiek en ontleding;
– Sreng grensbeheer;
– Die voorkoming van wederregtelike toegang tot plase.
Sover dit natuurlike hulpbronne en infrastruktuur aangaan, het mnr. Barnsley gesê dit is moeilik vir Kwanalu se lede om te funksioneer en voedselproduksie te verseker met ‘n al hoe minder reg tot die gebruik van natuurlike hulpbronne en ‘n gebrek aan landelike infrastruktuur.
Die verlies aan produktiewe landbougrond aan behuising, mynbou-aktiwiteite en besigheidsontwikkeling, is nog ‘n aspek wat die sektor onder druk plaas.
Kwanalu ondersteun:-
· Die volhoubare benutting van natuurlike hulpbronne;
· Die beskerming en gesonde balans van natuurlike hulpbronne;
· Die beperking van die koolstof en water voetspoor en die teenwerking van klimaatsverandering;
· Navorsing, ontwikkeling en behoud van kundigheid vir volhoubare bestuur;
· Deelname aan plaaslike strukture wat verantwoordelik is vir dienslewering.
Kwanalu bevorder steeds onderworpenheid aan arbeids- en verwante wetgewing en poog steeds om ‘n positiewe rol te vervul om aandag te skenk aan sake wat mag opduik.
Aktiewe kommoditeitsorganisasies, wat aandag skenk aan spesifieke kommoditeits verwante sake, is by Kwanalu geaffilieer.
Ter afsluiting het hy gesê:-
· Kwanalu streef na die algemene welstand van alle aspekte van boerdery- en landelike bestaan deur ekonomiese geleenthede, maatskaplike bevordering en opvoedkundige verbetering;
· Kwanalu is van mening dat eiendomsregte en persoonlike vryheid gewaarborg word deur die Suid-Afrikaanse Grondwet en dat dit noodsaaklik is vir algemene welsyn en dat sodanige vryhede verdedig behoort te word;
· Kwanalu glo dat ekonomiese vooruitgang ten beste verkry kan word in ‘n vrye mark stelsel.
Hy glo dat eenheid in die landbou en struktuur net goed inhou vir landbou.
16. Toespraak deur dr. John Purchase, HUB Landbou Besigheidskamer
Die voorsitter het dr. John Purchase aan die vergadering voorgestel.
Dr Purchase het Kwanalu en die voorsitter geluk gewens met sy toespraak en sy standpunt.
Hy het verwys na die neigings en uitdagings in die landbou en gesê die enigste manier om die probleem op te los, is om meer mense terug te lok na die boerdery. Hy het gesê die rimpel-effek van eetgewoontes is aan die verander en dit is noodsaaklik om meer te produseer. Klimaatstoestande het ‘n uitwerking hierop.
Goeie landboubeleid het positiewe gevolge vir Suid-Afrika. Volgens hom moet Suid-Afrika die vrye mark-beleid handhaaf, want verandering daaraan sal nie verbetering meebring nie.
Dit wat ons vandag doen ten opsigte van volhoubaarheid, is nie goed genoeg nie. Die sleutel is aanpassing en dit sal ‘n impak op boere hê.
Die voordele is:-
· Wêreldklas infrastruktuur
· Teen-seisoenaal teenoor Europa
· Biodiversiteit
· Ens.
Hy het gesê 60% van mense woon in stedelike gebiede. In Suid-Afrika maak landbou ongeveer 2.5%-aandeel van die GDP uit. Geleenthede tot waardeskepping is soveel groter. Ekonomiese groei in die sektor is aan die verander, daar was ‘n daling en dit daal steeds. Omdat daar gedurende die resessie nie aandag geskenk is aan fundamentele sake nie, is pryse nou hoër.
Hy het gesê kommoditeitspryse styg steeds en dit plaas die voedselpryse onder druk. Die regering raak bekommerd oor voedselinflasie en praat van ingryping.
Sover dit die wisselkoers aangaan het hy gesê, namate bekommernis oor skuld in Europa meer geword het, het die Rand sterker geword, maar dit is nou aan die afneem.
Hy was nie seker hoe die verbruiker daar uitsien nie. Oor die algemeen vind die middelklas dit moeilik om kop bo water te hou op hulle inkomste. Mense het van laer standaarde na beter lewenstandaarde beweeg.
Suid-Afrika se hulpbronsituasie lyk so:
– Eiendomsregte moet uitgebrei word om welvaar te skep;
– Die energiekrisis hou ‘n risiko vir ons land in;
– Stygende elektrisiteitspryse sal druk plaas op standaarde;
– Waterbestuur en watergehalte is in krisis;
– Die uitwerking van klimaatsverandering het onsekerheid meegebring;
– Degradering van grond en erosie;
– Bio-sekuriteits bedreigings – vyf groot siektes het uitgebreek en die landbou onder druk geplaas.
Feite oor die landbou – boerderyeenhede het vanaf 1993 tot 2007 afgeneem van 57 980 tot 39 982. Die meeste produksie vind in diereproduksie plaas, veral pluimvee. Netto boerderyinkomste het gestyg. Weens innovasie, bestuur en tegnologie, het die pryse van toebehore hoër gestyg as dié van produsentepryse. Die waarde van kapitale bates het die afgelope jare vermeerder. Verhoogde elektrisiteits- en waterpryse sal druk plaas op insetpryse. Daar bestaan kommer dat besighede markagente sal systap en direk met die boere besigheid sal doen, sonder dat die boere weet wat die regte pryse is. ‘n Beduidende uitvoer van produkte soos wyn, vrugte, ens. vind plaas. Daar is heelwat geld te make in verskeie bedrywe en daar is baie geleenthede tot uitbreiding, maar boere moet innoverend wees.
Hy het gesê agri-besighede speel ‘n baie belangrike rol in die mark. ‘n Ontwikkelingspad wat groei en maatskaplike gelykheid bevorder, is nodig. Jongmense vorm 75% van die werkloses in die land.
Die regering staar die volgende uitdagings in die gesig:
– Voedselsekuriteit vir huishoudings, sowel as nasionaal;
– Toegang tot veilige, voedsame en bekostigbare voedsel vir almal;
– Werkskepping;
– Bemagtiging van PDI’s;
– Grondhervorming en landelike ontwikkeling;
– Industriële Beleids-Aksieplan;
– Mededingende omgewing;
– Volhoubare hulpbronbestuur;
– Afrika-ontwikkeling.
Die uitdagings vir die privaat sektor verskil van dié van die regering, maar dikwels op dieselfde bladsy.
Die algemene vooruitsigte is veel groter bewustheid van voedselsekuriteit wat korrek bestuur word. Alhoewel die regering bewus is hiervan, word daar nie altyd samewerking verkry nie. Die moontlikheid van groot markte bestaan, maar dan moet die regering en die privaat sektor saamwerk.
Hy het afgesluit deur te sê ons het ‘n gesonde en kragtige agro-voedselbedryf en ons moet fokus op dit wat beheerbaar is. As gevolg van die onbestendige situasie waarin ons leef, moet ons buigsaamheid en aanpasbaarheid handhaaf.
Die voorsitter het dr. Purchase bedank vir sy baie insiggewende toespraak.
17. Toespraak deur mnr. John Kane-Berman, Hoof Uitvoerende Beampte van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge
“Die kronkelpad na die regte uitkoms”
Die voorsitter het mnr. Kane-Berman aan die vergadering voorgestel.
Mnr. Kane-Berman het gesê die samelewing het die oppergesag van die wet, doeltreffende regering en ekonomiese groei nodig. Hy het gesê hy sal die bedreigings en uitdagings identifiseer, asook die rolle wat hulle vervul en hoe om die regte uitkoms te verkry.
By ‘n terugblik kan mens verwar word deur negatiewe ontwikkelings die afgelope paar jaar en jy kan wonder of daar ‘n soort algemene deftige ontwerp is om die verontagsaming van beleid te verklaar. Vir baie jare het die ANC ‘n nasionale demokratiese rewolusie (NDR) begeer, maar in die publieke oogpunt is dit deur ander sake oorskadu. Mnr. Kane-Berman het aangevoer dat ‘n kapitalistiese ekonomie redelik goed deur die ANC bestuur is. Sedert 2007 egter, het die NDR vaart gekry. Meer staatsbeplanning is gedoen. Daar was hernude praatjies van grondhervorming. Mynbouregte het verval. Gelyke indiensneming, bemagtiging en ander doelwitte is verskuif. Aanvalle op die pers het toegeneem en buitelandse beleid het ‘n probleem geword.
Die NDR is ‘n ideologie, nie ‘n ekonomiese realiteit wat die meeste van die ANC se denkrigtings dikteer nie.
Dit wat in 1994 na vore getree het, was ‘n ooreenkoms, wat ‘n soewereine grondwet en ‘n lang lys regte ingesluit het. Meeste van die ANC is so passievol soos altyd oor die NDR.
In 1997, 2002 en 2007 is dokumente oor Strategie en Taktiek opgestel en dit het ingesluit:-
· Die bevryding van swartes van politieke en ekonomiese bande;
· Die verwydering van eiendomsverhoudings soos in die tyd van apartheid, en
· Die herverspreiding van welvaart, inkomste en grond.
Al is die implementering daarvan eers op die langebaan geskuif, was die doelwit steeds volle ekonomiese emansipasie vir die swart bevolking. Cosatu beskou die NDR as die mees direkte roete na sosialisme. Niemand in die regerende party kan korrupsie verdedig nie.
Hy het gesê ons kan uitsien na ‘n voortgesette stryd tussen die voorstanders van die NDR en sommige van die magte daarteen.
Die eerste les is dat beginselvaste en openbare opposisie suksesvol kan wees. Tweedens is sukses miskien net tydelik, so bly op jou hoede en derdens, as jy die uitkoms wil beïnvloed, moet jy aan die die spel deelneem.
Mr Kane-Berman het gesê dit is nou tyd om die patroon te verander. Daar is ‘n vakuum wat wag om gevul te word. Almal van ons aanvaar vryheid as vanselfsprekend en het min respek vir gesag. Die NDR verdoem swartes tot lewenslange werkloosheid, wanhoop of die vermoë om te lees en te skryf en tot verhoogde afhanklikheid van die Staat.
Die uitdaging is om aan hulle hoop en geleentheid te bied omdat dit die regte ding is om te doen. Dit beteken dat die verdubbeling of ver-driedubbeling van die groeikoers noodsaaklik is vir die daarstelling van werk en dit wys hoe ‘n vriendeliker beleggingsklimaat nodig is vir groeiversnelling. Dit is ‘n taak vir almal.
Al is kapitalisme en die vrye-ondernemingstelsel nou op die agtervoet, word die ANC se NDR-rolmodelle inderwaarheid al hoe minder.
Die veranderende internasionale klimaat, stel die NDR uit tyd.
Hy het probeer om van die uitdagings te identifiseer en om ‘n weg vorentoe aan te wys. Ons moet oppas om op die harde manier te leer. Besigheid het ‘n rol te speel. Ons moet wegskram van pessimisme, lafhartigheid of selfvoldaanheid. Almal van ons moet wakkerskrik.
Die voorsitter het mnr. Kane-Berman bedank vir sy toespraak.
‘n Afskrif van mnr. Kane-Berman se toespraak is by hierdie verslag aangeheg.
18. Oop Bespreking
Die voorsitter het die vloer vir debat geopen.
Mnr. Keith Archibald, Zululand Planters, het Mac Maharaj aangehaal as sou hy gesê het dat daar ‘n twee-stadium rewolusie sal wees. Mnr. Archibald wou weet of die mense in die ANC die strategie van die Kommunisteparty begryp en of die die NDR kommuniste in ‘n ander gedaante is.
Mnr. Kane-Berman het geantwoord dat die ANC presies weet wat die uiteinde sal wees. Van die punte word by hulle konferensies aanvaar, maar of die gewone lede daarvan bewus is, is ‘n moeilike vraag om te antwoord. Die hele kern van ANC-beleid is om afhanklikheid van die Staat te verhoog. Hy glo nie die pers is versigtig genoeg vir uitbuiting deur die NDR om hulle standpunt oor te dra nie.
Mnr. Hennie de Villiers, Heatonville Boerevereniging, het gevra of mnr. Kane-Berman glo dat die ANC oop is om alternatiewe idees te aanvaar.
Mnr. Kane-Berman het geantwoord dat hulle dit met verloop van tyd sal aanvaar omdat hulle weens stagnante groei ens. geen alternatief sal hê nie. Net soos die NP ontslae moes raak van ‘n onwerkbare beleid, sal die ANC dit ook moet doen.
Mnr. Rolf Konigkramer, Kranskop Boerevereniging het aangevoer dat indien die ANC die landbou wil reguleer en die NDR is selfvernietigend, wat is hulle doelwit? Mnr. Kane-Berman het geantwoord dat hulle doelwit die herskep van die samelewing is in ooreenstemming met ‘n ideologiese bloudruk, ‘n ideologie wat moeilik veranderbaar is. Hulle dinkproses moet verskil en hulle ondersteuningsbasis sal begin verkrummel, maar dit sal nie gou gebeur nie. Hy het gesê die meeste mense is klaarblyklik nie bereid om lesse uit die geskiedenis te leer nie.
Mnr. Jan Smit, Ingogo Boerevereniging wou weet wat die rol van opvoeding in die NDR is, want as jy mense opvoed, begin hulle vir hulleself dink.
Mnr. Kane-Berman het gesê die hoër opvoedingsvlakke hou ‘n groter bedreiging vir die regering in. Toekomstige voorspoed in die land en wittes wat meer afhanklik is van ‘n meer opgeleide werksmag en opvoeding – dit sal teenstrydige omstandighede tot gevolg hê. Die ANC sal moet erken dat iets gedoen moet word om swart onderwys te herstel.
Die voorsitter het klein geskenkies aan elk van die gassprekers oorhandig en sy dank teenoor Nedbank uitgespreek wat die sessie geborg het.
19. Middagete
Mnr. Howard Long het die tafelgebed gedoen voordat die Kongres vir middagete verdaag het.
20. Ampsdraers
Die Raad van Direkteure het gedurende middagete vergader om die president en twee vise-presidente te verkies.
Hulle is: President : Mnr. Brian Aitken
Vise-President: Mnr. Phenias Gumede
Vise-President: Mnr. Robin Barnsley
21. Toespraak deur dr. Theo de Jager, Vise-President van Agri SA, Voorsitter: Agri SA Beleidskomitee vir Transformasie en Agri SA se Afrika Komitee, Boere
Die voorsitter het dr. Theo de Jager aan die Kongres voorgestel.
Dr. De Jager het gesê as hy verenigings besoek, wil boere weet of daar verskillende scenario’s is. Hulle wil weet:-
– Wat gebeur met grondhervorming?
– Is daar steeds opsies vir ons?
– Wanneer het ons opsies opgeraak?
– Hoe ver is ons van die Zimbabwe-scenario?
Hy het gesê alhoewel ons nie vordering gemaak het in onderhandelinge nie, het ons ook nie aan die kortste end getrek nie. Hy het boere aangeraai om ‘n plan te beraam sover dit grondhervorming aangaan. Die mikpunt moet wees om die winsgewendheid en volhoubaarheid van die sektor behoue te laat bly.
In die proses moet ons iets opoffer, maar sal op op ‘n beheerde wyse gedoen word. Hy het gesê daar is uitkomkans, boere sal nie vir altyd vuurslaners teen grondhervorming bly nie, maar hulle moet ‘n vertrouensprong waag. Hy het gesê die landbou moet die regering uit een mond benader.
Hy het gesê daar is enkele kere waar ons nie as wenners uit die stryd kan tree nie. Een is om alles nie altyd krities te beskou nie, maar om aan die regering uitkomkans te bied en hulle te help om hulle aansien te behou. Hy het gesê dat die boere, die ANC en sy kiesafdelings saam in hierdie situasie is en dat ons ons nie van die probleme moet distansieer nie. Ons moet ons pad oop veg. Ons moet die toekoms probeer voorsien en dit nou bestuur sodat dit ons nie onverwags oorval nie. Hy het gesê as grondhervorming misluk, sal alles misluk. As transformasie misluk, sal niemand vrede hê nie. Hy het gesê die regering kan dit nie laat gebeur nie, daarom is dit in ons hande.
Ons beleef van die moeilikste tye in die landbou in ons leeftyd. Ons moet ‘n manier kry om dit te oorleef. Voedselinflasie het die afgelope jaar met meer as 30% gestyg. Daar is te veel mense en te min boere.
Hy het gesê daar is geen waarborge nie. Dit is deel van die realiteit waarin ons boer. Ons verstaan die siel van Afrika beter as enigiemand anders. Vorige geslagte het te kampe gehad met wêreld- en ander oorloë, maar die uitdaging waarvoor ons geslag te staan kom, is om grondhervorming en restitusie te maak werk. Dit is ‘n uitdaging vir ons aanpassingsvermoë.
Die voorsitter het mnr. De Jager vir sy toespraak bedank.
22. Oop Bespreking
Die voorsitter het die vloer vir debat geopen.
Mnr. Andrew Poole, Boston Boerevereniging, wou weet watter alternatiewe daar bestaan vir inskakeling by die grondhervormingsprogram. Dr. De Jager het hom aangeraai om op die grond te bly sonder om hardkoppig te wees. Hy het gesê hy kry meer inkomste uit die grond wat hy verhuur as wat hy uit die boerderygrond kry. Hy het gesê as jy in die bedryf wil bly, moet jy groot droom. As jy nie groot word nie, sal jy die slaaf word van die groter spelers. Daar is egter geen waarborge nie.
Mnr. Edgar Dhlomo van NAFCOC het dr. De Jager versoek om ‘n vergelykende scenario te skilder tussen KZN en die Kaap of Mpumalanga, want daar kan nie ‘n een-grootte-pas-almal in die situasie wees nie. Daar is verskillende probleme in verskillende provinsies. So waar gaan die plan vandaan kom? Dr. De Jager het geantwoord dat ons in ‘n wêreld in een land leef. Hy het gesê Agri SA kyk na KZN om met oplossings vir die probleme vorendag te kom omdat KZN die probleme moes hanteer. Hy het toegegee dat elke provinsie verskillend is met verskillende probleme.
Die voorsitter het dr. De Jager vir sy toespraak bedank.
Die voorsitter het gesê die sprekers is genooi om oor geleentheid, balans en die praktiese sy te praat. Boerdery is nie vir sissies nie, daarom raai hy afgevaardigdes aan om terug te gaan en ernstig oor hierdie sake na te dink en aan hulle affiliasies verslag te doen.
23. Resolusie
Die voorsitter het gesê die Raad het aan hom ‘n mandaat verleen om die volgende resolusie ter tafel te lê:-
“Die daarstelling van ‘n Regsfonds”
Die voorsitter het verduidelik dat sake wat alle boere raak, voortdurend opduik en Kwanalu voel dat hy in ‘n posisie moet wees om onmiddellik op sommige daarvan te reageer.
Die fonds sal gestig word om:-
· By te dra tot regsake van Agri SA wat namens lede van Kwanalu aanhangig gemaak word;
· Regsmenings in te win waar nodig;
· By te dra en/of hulp met regsprobleme te verleen;
· Die breër bevoordeling en belange van al Kwanalu se lede in ag te neem.
Die implementering sal die volgende omvat:-
· ‘n Beleid waarin die doel, gebruik en prosedure-proses wat met enige aansoek of saak gevolg sal word, duidelik uiteengesit is;
· Die Raad van Direkteure sal deur ‘n onafhanklike span regsadviseurs van raad bedien word aangaande die meriete van bydraes, steun en die aanvaarding van sake.
Daar is voorgestel dat:-
· ‘n Eenmalige bydrae van R500 per kommersiële boer en R250 per kleinhoewe/deeltydse boere gemaak moet word;
· Vir ‘n agtereenvolgende tydperk van drie jaar, moet ‘n bedrag van R250 per kommersiële boer en R125 per kleinhoewe/deeltydse boer per jaar bygedra word;
· Donasies/beloftes aanvaar moet word;
· Indien ‘n bepaalde saak, wat voor die Raad en sy lede gelê word, bykomende bydraes benodig, sal dit so voorgestel word.
Die voorsitter het mnr. Brian Aitken versoek om die aanvaarding van die resolusie voor te stel.
Mnr Aitken het gesê daar is lank en hard deur Kwanalu debat gevoer oor die instelling van hierdie regsfonds en die gevoel is dat dit nodig is in gevalle waar ‘n gewenste uitkoms nodig is. Hy het gesê openbare teenkanting kan suksesvol wees, maar as ons regte bedreig word, moet ons ons tot die howe wend om ons te beskerm. Hy het formeel voorgestel dat die resolusie aanvaar word.
Mnr. Mike Black, KZN MPO, het die resolusie aanvaar.
Mnr. Roger Godsmark, Bosbou SA, wou weet hoe groot die bydrae is wat van kommoditeitsorganisasies verwag word. Die voorsitter het geantwoord dat dit met elke kommoditeit afsonderlik bespreek sal word.
Mnr. Tim Ralfe, KZN-RPO, het gevra of daar nie nou van lede en kommoditeite verlang word om dubbeld te betaal nie. Die voorsitter het gesê dat die gesprek eintlik van toepassing is op kommoditeitslede wat nie lede van Kwanalu is nie. Hy het gesê fakture kan aan ons lede uitgereik word, maar kommoditeite en agri-besighede sal vir bydraes genader word.
Mnr. Harvey Anderson, Ingwe Boerevereniging, het gevra hoe die geld ingesamel gaan word. Die voorsitter het geantwoord dat dit aan die afgevaardigdes oorgelaat word om met ‘n sterk motivering terug te gaan. Die Raad sal verantwoordelik wees vir die daarstel van ‘n implementeringsplan.
Mnr. Jannie Kemp, Newcastle Boerevereniging, het gesê hulle boerevereniging het bygedra tot die regsfonds vir munisipale eiendomsbelasting. Hy is besorg oor hoe afdwingbaar hierdie bydrae op individuele lede sal wees. Hy is nie teen die resolusie gekant nie. Die ander uitweg was miskien om te kyk of boereverenigings die bedrag nie sal betaal uit moontlike spaarrekenings wat hulle mag hê nie. Die voorsitter het geantwoord dat dit aan die afgevaardigdes oorgelaat word om namens hulle boereverenigings te praat. Hy het aangevoer dat ons onsself nie in ‘n posisie wil bevind waar regsoptrede nodig is en Kwanalu kan, weens ‘n gebrek aan geld, nie deelneem nie. Hy het gesê as die resolusie met die steun van die Kongres gemotiveer word, sal lede bydra.
Mnr. Scot Scott, Izotsha Boerevereniging, het gesê na sy mening lê daar moeilike uitdagings vir die landbou voor gedurende die volgende 24 maande. Om R500 per lid te betaal, is geen probleem nie. Lede bestee meer as dit aan DSTV elke maand. Dit sal R500 wees wat goed bestee is vir die toekoms van landbou.
Die resolusie is eenparig AANVAAR.
Die voorsitter het gesê dit gaan nie maklik wees nie, maar dit is belangrik dat lede saamstaan.
24. Afsluiting
Mnr. Barnsley het beamptes bedank vir hulle aanwesigheid, sy dank uitgesprek teenoor Kwanalu se personeel wat verantwoordelik was vir al die reëlings en dankie gesê aan die media, die borge en die afgevaardigdes.
Die nuwe president, mnr.Brian Aitken, het die Kongres toegespreek en almal bedank vir die geleentheid hom gegun om die organisasie te lei. Hy het gesê almal wat by landbou betrokke is, moet geakkommodeer word om te weet wat almal se gevoelens is. Hy het mnr. Barnsley bedank vir al sy goeie werk. Hy het afgevaardigdes aangeraai om huis toe te gaan en jong boere te oorreed om in diens van die landbou te tree. As ons nie kan boer nie, sal ons ook nie in besigheid wees nie. Met lede se hulp, sal ons die uitdagings die hoof bied. As ons daarin slaag, lê ‘n mooi toekoms voor, maar mens wil nie eens dink wat sal gebeur as ons misluk nie.
Mnr. Barnsley het lede aangemoedig om die nuwe president te ondersteun. Hy het sy dank uitgespreek teenoor die vise-presidente, raadslede en mev. Joan Anderson van die FWI, wat die afgelope vyftien jaar ‘n raadslid was.
Die voorsitter het afgesluit met gebed en die vergadering om 15:13 gesluit verklaar.
Kwanalu
Posbus 100123
3209 SCOTTSVILLE
Tel: 033-342 9393
Faks: 033-345 7141
e-pos: director@kwanalu.co.za
21 September 2011
NA-KONGRES NOTA:
Die verkiesing van die Bestuurskomitee het plaasgevind tydens die raadsvergadering wat ná die Kongres gehou is. Saam met die president en vise-presidente is die volgende persone tot Manco verkies:-
Mnr. Christopher Hadebe
Mnr. Colin MacDonald
Mnr. Sisa Damoyi
Mev.Lisa Robinson