• Subscribe
  • Login
+27 33 342 9393

General Information and News Monitoring

of interest...

Onteiening sonder vergoeding ‘nog nie ANC-beleid’

09 April 2017
Netwerk 24

Deur Alicestine October

Onteiening van grond sonder vergoeding is nog nie ANC-beleid nie, het die ANC Sondag weer benadruk, maar die deur hiervoor is duidelik nog oop.

Dit kan moontlik verander op die party se beleidskonferensie in Junie en op die konferensie in Desember waar leiers verkies word, het Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondsake, gesê.

Nkwinti het vrae beantwoord op ’n mediakonferensie van die ANC se subkomitee oor ekonomiese transformasie.

ONTEIENING SONDER VERGOEDING IS NIE HIERIN TER SPRAKE NIE.

Volgens Nkwinti is net die Wetsontwerp op die Regulering van Landbougrondbesit waarvoor die publiek insette kan lewer aan die kom. Onteiening sonder vergoeding is nie hierin ter sprake nie.

Hy sê die debat noodsaak dalk nou die vraag: “Moet ons onteiening sonder vergoeding toelaat?”

“Maar dit is nie tans beleid nie. Grond kan slegs sonder vergoeding onteien word as dit bedrieglik bekom is of vir misdaaddoeleindes gebruik word.”

Nkwinti het benadruk al is dit nie tans beleid nie, sal dit op die party se beleidskonferensie in Junie bespreek word.

“Sou daar besluit word op onteiening sonder vergoeding, sal dit in Desember op die nasionale kongres voorgelê word waar ’n finale besluit geneem sal word. Ons sal dus eers dan weet of daar onteiening sonder vergoeding sal wees.”

Enoch Godongwana, komiteevoorsitter, het op sy beurt gesê die bestaande standpunt is dat daar regverdige vergoeding moet wees vir grond wat markgebaseerde waardasies van grond moet vervang.

Die regering moet ook kennis neem van die konstitusionele hof se bevinding dat ’n ooreenkoms oor hoeveel regverdige vergoeding is, nie ’n voorwaarde vir grondhervorming is nie, het hy gesê. Grondherverdeling sal geslaagder wees as daar meer toesig is oor grond, plaastoerusting en die oordrag van tegniese vaardighede aan die begunstigdes van grondhervorming, het hy gesê.