• Subscribe
  • Login
+27 33 342 9393

General Information and News Monitoring

of interest...

Grondwet gewysig? Komitee kort tyd

22 Apr 2018
Rapport
Jan de Lange

Die parlementêre komitee wat die wenslikheid moet ondersoek van ’n wysiging van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te bespoedig, sal waarskynlik nie in Augustus al sy taak kan voltooi nie. Die moontlikheid word ook opnuut genoem dat die komitee sal aanbeveel ’n grondwetwysiging is onnodig.

Vincent Smith, voorsitter van die grondwetlike hersieningskomitee wat einde Mei begin om die land te deurkruis vir openbare verhore oor die eiendomsklousule in die Grondwet, het aan Rapport gesê hy oorweeg om die parlement te vra om die proses met minstens ’n maand uit te stel.

Advertensies waarin die publiek genooi word om voorleggings te doen, sou die naweek gepubliseer word.

Die mosie wat die parlement in Februarie aanvaar het oor die wysiging van die eiendomsklousule, artikel 25 van die Grondwet, gee die grondwetlike hersieningskomitee opdrag om einde Augustus ’n verslag aan die parlement voor te lê.

Die begrotingsproses word egter elke jaar in Mei afgehandel en die begroting teen einde Mei of vroeg in Junie goedgekeur. “Daar is ’n sterk moontlikheid dat die Nasionale Raad van Provinsies vanjaar eers in Junie met die proses klaar sal wees. Lede van dié kamer sal dan nie aan die landwye verhore kan deelneem nie,” sê Smith.

Die begrotingsproses sal voorrang moet kry.

“Ons moet op die laatste einde Mei met die openbare verhore begin. Ander is daar nie genoeg tyd om die openbare konsultasieproses behoorlik te doen en ’n verslag teen einde Augustus in te dien nie,” sê Smith.

“Ek is nie bereid om die proses te verkort nie. As ons nie einde Mei kan begin nie, sal ek die parlement uitstel moet vra. Die konstitusionele hof het reeds duidelike uitsprake gelewer oor wat vereis word vir voldoende konsultasie voordat sulke wette gewysig kan word. As ons nie daaraan voldoen nie, kan ons verslag betwis word,” sê Smith.

Die komitee moet ’n aanbeveling aan die parlement maak of die eiendomsklousule ’n hindernis is vir grondhervorming en of dit nodig is om die klousule te wysig.

“Dit is ons enigste opdrag. As ons bevind dat dit nodig is om die Grondwet te wysig, gaan ons glad nie voorstelle maak oor hoe dit gewysig moet word nie. Dit sal deur ’n ander komitee, waarskynlik die staande komitee oor justisie, gedoen word indien nodig,” sê hy.

’n Wysiging sal ook bykomende wetgewing vereis “wat uiteensit hoe grond vir herverdeling onteien kan word sonder om vergoeding daarvoor te betaal”, verduidelik Smith. Dit sal waarskynlik deur die portefeuljekomitee oor grondsake gedoen word.