• Subscribe
  • Login
+27 33 342 9393

General Information and News Monitoring

of interest...

Geluksburg: Bejaarde het glo ook op polisie geskiet

Netwerk 24
Deur Charné Kemp
17 Julie 2018 19:04

Die bejaarde inwoner van Geluksburg in KwaZulu-Natal wat na bewering deur die polisie doodgeskiet is, het glo ook op die polisie geskiet. Hans Potgieter (81) is Maandag op sy erf in die dorpie tussen Bergville en Van Reenen in ’n oor-en-weer-skietery met polisie doodgeskiet. Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) stel nou ondersoek in na die voorval. Die skietery het gevolg nadat Potgieter na bewering vir Nhlanhla Shabalala (44) in die gesig geskiet het. Opod sê aanvanklike inligting dui daarop dat Shabalala na bewering vir Potgieter genader het om toestemming te kry om vee wat op die erf was te vat. Volgens ’n familielid wat anoniem wil bly, het Potgieter alleen gewoon. Hy en Shabalala het blykbaar ’n ooreenkoms oor weiding op Potgieter se erf gehad. “Die gewonde man het sy vee by Potgieter gaan haal, maar dit blyk daar was ’n onderonsie. Potgieter het ’n vuurwapen gehad,” het die familielid aan Netwerk24 gesê. “Na verneem word, het die oom glo op die man geskiet. Die man het na ’n nabygeleë kafee gehardloop en die polisie ontbied. “Die polisie wou met hul aankoms met Potgieter onderhandel, maar hy het glo nie saamgewerk nie. Hy het glo op die polisie geskiet, en die polisie het teruggeskiet. “Die voorval is betreurenswaardig.” Potgieter het jare lank op die dorp gebly en het vroeër jare in die omgewing geboer. Hy en sy vrou het nie meer saamgebly nie. “Sy omstandighede was nie gelukkig nie,” het die familielid gesê. Intussen het die polisie in KwaZulu-Natal bevestig dat Shabalala in ’n bestendige toestand in die hospitaal is.